Saturday, 6 July 2013

Mediese boete vir ons wat na SA terugkeer - Stuur die toordokter

Gepubliseer in Beeld, Johannesburg, as rubriek op 6 Julie 2013

Luiheid is wanneer jy rus voor jy moeg raak. Ek lê nou in die bed en skryf. Nie om te rus voor moegheid nie. Ek herstel van ʼn operasie en nou bepeins ek die essensie van menswees as asemhalende, draagbare loodgieterwerk.
My gedagtes was egter elders toe ek daar op die operasietafel soos ʼn geplukte hoender wag om geskeer en geperforeer te word. Daarom wou ek by die narkotiseur weet waar hy gestudeer het want ek wou baie graag weer wakker word en my maermerries se lewenstaak verder voer, naamlik om meubels in die donker te vind. Ek het die verpleegster gevra of daar ʼn briek aan die bed langs die operasietafel was want ek wou nie tussen tafel en bed val nie omdat ek verkies om my kop teen probleme te stamp en nie die vloer nie.

Die belangrikste vraag was egter aan myself. Om my was daar ligte, instrumente en die groot TV-skerm vir beelde wanneer kameras en skalpels in my liggaam rondvroetel en al wat ek aan kon dink was: Is dit regtig so goed dat al hierdie toerusting hier uitgekom het teen die laagste tenderpryse?
Ja sien, die Skedelkus van die Dood was nog net ʼn effens siek kleuterstrand toe ek klein was en nou, op my meer kwaliteitsgerigte en minder prysgerigte ouderdom, probeer ek vlooimarkvlak-verbande en prysgesnyde snytoerusting vermy.

My operasie het gelukkig wonderlik afgeloop maar elders in die wêreld is daar dikwels tog wel sulke kwaliteitsprobleme van tyd tot tyd.
Dink maar net aan die skandaal wat soveel Barbie van der Boobiebergs die afgelope drie jaar getref het toe dit uitkom dat hulle goedbedeelde medies-geïnduseerde verleidelikheid ʼn dekade lank gemaak was van ʼn bankrot Franse maatskappy se bekostigbare silikoon borsinplantings wat beter in matrasse as vrouens se liggame sou pas. Dink aan die Amerikaanse firma wat stilletjies beensement in mense getoets het met rampspoedige gevolge of farmaseutiese firmas wat navorsingsfeite opgemaak het.

Retraction Watch, ʼn blog van Ivan Oransky (uitvoerende redakteur van Reuters Health) en Adam Marcus (redakteur van Anesthesiology News), teken honderde herroepings van mediese aansprake jaarliks aan, baie daarvan gebaseer op leuens.
ʼn Leuen in die sakewêreld is dikwels net ʼn gerieflike onakkuraatheid. Gelukkig is ons mediese toerusting in klinieke daarvan gespaar en was my vrees in die operasiesaal oor laagste tenderpryse ongegrond.

Ons het egter wel ʼn groot mediese probleem wat aandag verdien en dis van die regering se kant.
Die Wet op Mediese Skemas bepaal dat Suid-Afrikaners wat lank buite Suid-Afrika woon en nie in staat is om Suid-Afrikaanse mediese fondse oorsee te gebruik nie met hulle terugkeer vir die res van hulle lewens beboet (eintlik belas) word. Hulle moet vir altyd boetepremies van tussen 5% en 75% by mediese fondse betaal omdat hulle (kuggie) nie aan Suid-Afrikaanse mediese fondse behoort het nie. Wat onmoontlik was. Catch 22.

Dis ʼn onakkuraatheid wat terugkerendes sal wegstoot. Parlementsgedrewe.
En genoeg om my te dryf om, soos my vriend Carl wat saam met my nou die dag in ʼn bosveldse apteek was, te vra of ek nou die toordokter kan sien.

 

Monday, 1 July 2013

O bring my terug met my ou GPS

Rubriek in Beeld 8 Junie 2013
Historici stem saam dat die Dorslandtrekkers van die laat 1800’s en vroeë 1900’s holderstebolder in Angola beland het weens twee empiries bewese redes: Hulle het ʼn tekort aan goeie GPS-toestelle gehad en, soos alle vrouens weet, geen verdwaalde man vra ooit enige persoon vir rigtingaanwysings nie. Al is die strate in elke dorpie van Suid-Afrika so breed uitgelê dat ʼn verdwaalde man met ʼn breërandhoed sy ossewa in die straat kon omkeer om terug te ry.
Ek dink dit was veral as gevolg van hulle GPS-probleem dat die Dorslanders graag die liedjie gesing het: “O bring my terug met my ou GPS na daar waar my Sarie woon.”
Met hierdie skrywe trek ek nou ook noordwaarts uit die Kaap om een van Suid-Afrika se gewildste toeristebestemmings te kom besoek – Romantiese Gauteng met sy dramatiese Kapingsroete vir Voertuigentoesiaste en, vir die musiekliefhebber, sy nagtelike harmonieë. Ek sien veral uit na Ludwig van Steelhoven se Maanligsonata vir Blaf- en Sirene-instrumente.
Om te verseker dat ek Angola vermy en niemand vir rigtingaanwysings hoef te vra nie bestuur ek dus, soos so baie moderne trekmense, met ʼn GPS-toestel (Globale Posisioneringstelsel). Waar die ou Dorslandtrekkers onder sterrekonstellasies hulle osse na Angola laat verdwaal het, reis ek en my GPS-ontvanger nou onder ʼn konstellasie van 24 satelliete wat 19 000 kilometer in die lug bo ons rondkarring en waarvan vier of meer my op elke oomblik presies laat weet waar ek nou weer gevouteer (ferskoning, gefouteer) het. Dink net, met vier satelliete benodig jy nou byna 80 000 kilometer se kommunikasielyne om jou te laat weet dat jy 100 meter vorentoe moet regs draai by daardie kruising wat jy duidelik kan sien.
Die GPS-dame wat gedurig in my kar met my en my medereisiger, Noeline, raas dat ek moet omdraai, is so ʼn bietjie soos die Internet en die rekenaar — sy is militêr gebore. Die Amerikaanse weermag se Arpanet van die 1970’s, die wêreld se eerste pakketskakel-netwerk, was die model-T van die Internet. Die Tweede Wêreldoorlog se briljante Alan Turing en die geheime Britse Colossusrekenaar het vandag se rekenaars geskep. Danksy streng militêre uitvindings kan siviele swaaistoelsoldate dus vandag chaoties inkliek op triljoene ongedissiplineerde stout foto’s.
Maar terug na die GPS-stem in die motor.
In die Koue Oorlog het Amerika se Verdedigingsdepartement teen ʼn koste van so $12 miljard ʼn klomp mensgemaakte satellietsterre in die ruimte geplaas sodat GI Joe en Davy Navy ʼn ogie kon hou oor Boris Kalashnikov en sy mense. Toe die Sowjetunie in 1983 ʼn Koreaanse passasiersvliegtuig afskiet het die VSA onder president Reagan besluit om die GPS-tegnologie kommersieel beskikbaar te stel om vliegtuie te help om nie in militer-sensitiewe buitelandse terrein af te dwaal nie.
Danksy die VSA se sterrewapens kan ek en Noeline dus ons pad makliker vind maar ons moet natuurlik ons eie oordeel ook gebruik en nie digitale domkoppe wees nie. Gelukkig is ons nie meer kinders nie en het ons op ons ouderdom darem ook die voordeel van ons eie posisioneringstelsel want een van ons weet wie ons is en die ander weet waarheen ons eintlik op pad is.