Monday, 27 May 2013

Hoe ons mal oor malls geword het (In Beeld gepubliseer are “Die koning se spelery lei na koopkatedrale)

In Beeld as rubriek op Saterdag 25 Mei 2013.

My oorlede vriend, TV-kommentator Retief Uys, het op ʼn slag vertel van ʼn radio nuusleser in die tagtigerjare wat ʼn berig gelees het oor drie ontsnapte gevangenes wat “op vrye voet” was, Soos blits het die ou SAUK-taalpolisie ʼn nota aan hom gestuur dat die gevangenes “op vrye voete” in die meervoud moes wees. Met die volgende nuustyd voeg dieselfde leser toe ʼn nuusberig by dat die Johannesburgse Dameskoor die vorige aand “uit volle borste” gesing het.
Dit herinner my aan ʼn stuk wat ek met president Zuma se staatsbesoek aan Engeland vir Beeld se susterkoerant Rapport geskryf het. Ek het daarin gemeld dat Suid-Afrikaanse vlae die lengte van die Mall na Buckingham-paleis gehang het (die Mall synde die kilometerlange seremoniële rooi teerpad na die paleis). Teen druktyd het ʼn oorgretige redaksielid by Rapport my vlae langs die Mall verander na “Suid-Afrikaanse vlae by die winkelsentrum oorkant Buckingham-paleis”.

Oeps.
In ʼn noodgeval kan koningin Elizabeth II ongelukkig nie, curlers in die hare en handsakkie oor die arm, by ʼn Royal Buckingham Mall oorkant haar slaapkamer gou hondekorrels vir die Corgis gaan koop nie.

Maar wag, die vlag hoef nie halfmas te hang vir ʼn gebrek aan algemene kennis nie. Die redaksielid was toevallig na aan die waarheid want vandag se Rosebank, Eastgate en Menlyn Park Shopping Malls het wel ʼn historiese verbintenis met Londen se rooi geteerde Mall.
In die 16de en 17de eeue was Londenaars versot op pall-mall wat afgelei was van die Italiaanse woord “pallamaglio”. Dit klink soos setpille vir maagprobleme maar het eintlik bal-en-klophamer beteken.
Pall-mall was ʼn grasperk-croquet wat mense langs ʼn pad gespeel het wat gou bekend gestaan het as Pall Mall. As gevolg van die spel het Pall Mall, wat vandag nog bestaan, egter destyds so ʼn verkeersverknorsing geword dat koning Charles II ʼn nuwe laan daarnaby uitgelê het sodat hy en sy pelle rustig kon pallamaglio. Dit was die Mall en kort voor lank het daardie skaduryke promenade skares geskep wat talle verkoopstalletjies gelok het. In koningin Victoria se tyd het die Mall wel verander in ʼn deftige oprit na Buckingham-paleis maar die oorspronklike Mall as ʼn lowerbedekte inkoopgebied het vanaf 1922 (met die eerste inkopiemall naby Kansas City in die VSA) gelei na die benaming van mall vir enige onderdakwinkelsentrum.

So het Charles II se Mall gelei na vandag se lugversorgde pelgrimsoorde in Suid-Afrika waar moeë randreisigers, veral in diep rand-en-sent-religieuse tye soos Kersfees en Paastyd, hulle sorgbehoewende siele kan verkwik met silwerkollektebydraes. Hierdie plekke is nie net mooi kommersiële katedrale nie. Dis waar ʼn man kan wegbreek om teen ʼn muur, soos iemand met sy rug na ʼn vuurpeleton, te staan en water afslaan terwyl sy anti-kraanwater vrou elders water in bottels koop wat al die pad van Switserland ingevoer is en kinders multitake in ʼn fliek kan verrig met voedsame springmielies, roomys en bruisdrankies. Danksy pallamaglio kan ʼn mens nou uitgaan om flitsbatterye te koop en tuiskom met ʼn 60-duim platskerm TV en ʼn goudvergulde kurktrekker.
Ja, sedert Charles II is daar net drie dinge wat absoluut seker is in die lewe: die dood, belasting en meer malls.


   

Die klavier

In Beeld as rubriek op 11 Mei 2013


Leuens is dikwels gebuigde waarhede. Waarhede is nooit gebuigde leuens nie.
President Richard Nixon van die VSA het byvoorbeeld die waarheid lelik gebuig tydens die Watergateskandaal maar dit mooi reggetrek met sy opmerking dat, as jy pragtige musiek wil speel, moet jy die swart en wit note saamspeel. Die heelal bestaan nie net uit swart gravitasiekolke en ook nie net uit wit lig nie. Dis soos Nixon se musiek. Ongebuig waar en saam. Oukei, tensy jy ʼn Einstein-haarklower is.
So staan ek nou die dag as ʼn klein hartklopspikkel in die heelal in ʼn aftree-oord in Hermanus en ek kyk na die swart en wit klawers op Erna se klavier. Erna is nou in haar tagtigs en haar klavier, ʼn Otto Müller met twee ingeboude kandelare en pragtige houtsneewerk wat in die 1800’s uit Berlyn via Durban ingevoer is, het ʼn interessante musikale rol in die gravitasiekolke en ontploffingslig van die Anglo-Boere-oorlog gespeel.
“My Ouma Gerhardina was sestien jaar oud toe die Engelse in die Anglo-Boere-oorlog op ons familieplaas tussen Harrismith en Memel aankom. Jy weet seker van die Engelse se brandbeleid om plaashuise en besittings te vernietig toe die mans op kommando was en die vrouens tuisgebly het.”
Ja.
“Wel, die Engelse het Gerhardina, haar ma en ander kinders uit die huis gejaag om die huis aan die brand te steek. Die sestienjarige Gerhardina smeek toe dat die Engelse offisier haar klavier moes spaar. Hy sê toe dat, as sy vir hom iets sou speel, hy dit sou oorweeg.”
Ek dink aan my dogter Karen en haar liefde vir musiek.
“Die soldate dra toe hierdie klavier na buite en weet jy wat sy vir hom speel? Home Sweet Home. En skielik was daar ʼn vredesoomblik in die oorlog tussen Ouma Gerhardina en die offisier,” sê Erna, “want hy het in trane uitgebars. Die klavier is gespaar.”
 
Na die tyd lees ek die liriek op:
Mid pleasures and palaces though I may roam,
be it ever so humble, there's no place like home.
 
Wit en swart note het twee teenoorgestelde oorlogshuise in ʼn lied saamverweef.
 
“Dit was seker maar hierdie klavier se Home Sweet Home wat die offisier oorreed het dat Gerhardina-hulle by hulle afgebrande huis kon aanbly. Die murasie was reg by die Drakensberge en die vrouens het die res van die oorlog in ʼn grot gaan bly.”
 
“En die klavier?”
 
“Die plaaswerkers, wat natuurlik almal swart was, het die klavier na hulle kraal geneem en dit opgepas.”
 
Ek wonder, het die vingertjies van kinders die vreugde van musiek op hierdie swart en wit klawers in daardie kraal ontdek?

“Vir die res van die oorlog het die plaaswerkers vir Ouma Gerhardina en haar familie kos na die grot geneem. En na die oorlog het Gerhardina haar klavier van die werkers teruggekry.”
Wat ʼn les.

Swart en wit note op ʼn klavier in Hermanus het nie net meer as ʼn honderd jaar gelede vrede tussen Boer en Brit geskep nie maar ʼn vertrouensband tussen wit en swart.
Musiek is vandag steeds die ware, ontasbare vredesband tussen mense van alle rasse.

Miskien moet dit meer gebruik word.