Saturday, 23 February 2013

Kou is nie perdekoop nie


Hierdie rubriek het op 23 Februarie 2013 in Beeld verskyn onder die titel Hou verby met lampreipastei, hokaai slakpap!

ʼn Perd kan jou nogal skrikmaak. Dink net aan die ou in Mario Puzo se The Godfather wat wakkerskrik met ʼn perdekop in die bed langs hom.
Nou het ʼn perd van ʼn ander kleur die Britte op hol want dit het uitgelek dat supermarkte verdoeselde perdevleis in klaargemaakte beesvleisgeregte verkoop het. Dis asof die gemiddelde Brit skielik wakker geskrik het met ʼn bevrore Godfather hamburger of bieflasagne op die kussing langsaan. Kou is nie perdekoop nie en hierdie voedselbesoedelingstorie het nou Europa-wyd  uitgekring maar, behalwe vir die bedrog en valslike etikettering van goedkoop vleis, verstaan ek nie die bohaai nie.

Maar wag, voor elke Danie Theron opsaal om my aan te vat, ek sê nie mense moet hulle rydinge eet nie. Nie eers met mosterd of tamatiesous nie. Geen medisyne kan jou spysverteringsprobleme verlig as jy jou Raleighfiets of jou Honda 50cc verorber nie maar, asseblief, perde is nie juis meer in ons moderne iWhine-era algemene rydinge nie. Hierdie verdoeselde vleis wat blykbaar soos asielsoekers van lande soos Roemenië ingesluip het, bly vir my gesigslose perde soos gesigslose beeste. Dis nie juis asof jy Hansie jou hanslam braai nie. Of van Kokkie die kokketiel ʼn sosatie maak nie.

Boonop eet die Britte baie eienaardiger goed as Radu van Roemenië se Ou Ryperd.
Dink aan die Skotse lekkerny Haggis – die opgemaalde hart, lewer en longe van ʼn skaap gemeng met hawermeel, dierevet en uie wat met ʼn tikkie sout en peper in ʼn skaapmaag vir ʼn paar ure opgekook word. Geurig, ryk en lekker. Behalwe in pretbederwende Amerika waar diep-longvoedsel verbode is. Die Skotte wil afstig van die Verenigde Koninkryk. Miskien is Haggis ʼn goeie aanvaardingsrede.

Wat van die Britse ontbytgunsteling Black Pudding? – ʼn mengsel van gestolde varkbloed, vet en hawermeel in worsvorm. Ek hou nie daarvan dat mense kos rondgooi nie maar ek is bereid om met swart poeding ʼn uitsondering te maak. Daarom verstaan ek die jaarlikse World Black Pudding Throwing Championships in Ramsbottom naby Manchester. Die reël? Jy mag jou Black Pudding net onderarm gooi.
Dan is daar Spotted Dick wat, ja inderdaad, ʼn onder-die-belt oorsprong in benaming het. Dis eintlik maar net gestoomde poeding met rosyne maar veral in hospitale gewild waar ouens kan sê: “Ag Nursie, kan jy my asseblief vir middagete ʼn Spotted Dick gee?” In 2001 het Gloucester se hospitaalowerheid dit herdoop tot Spotted Richard maar moes dit noodgedwonge binne ʼn jaar weer her-herdoop tot Spotted Dick.

So lank gelede as in 1135 het koning Henry I weens voedselvergiftiging gesterf nadat hy homself ooreet het aan lampreie – klein bloedsuiende palings wat parasities aan ander visse hang.
Koningin Elizabeth II se kroningspastei op 4 Maart 1953 was van dieselfde suigbekkie lampreie gemaak. En verlede jaar het die dankbare (Spotted Richard) mense van Gloucester vir koningin Elizabeth se 60ste jaar op die troon haar – ja dis reg – ʼn lampreipastei gestuur.

Hier naby my, by die drie-ster Michelin restaurant The Fat Duck, kan jy slakkepap eet. Dis ten minste nie parasities nie.
My siening?

Ek skrik nie vir enige bieflasagne in my bed nie en verkies ʼn perdeburger met skyfies bo ʼn gebraaide parasiet met gestolde varkbloed. (Ek hoef nie my kop te laat lees nie, dankie.)