Monday, 28 January 2013

Die proliferasie van wapens van massawense (oftewel Craig wens net beterskapwense hou eendag op)

Rubriek in Beeld op Saterdag 25 Januarie 2013

Ek lees êrens dat Langenhoven gesê het dat net flukse perde flou word. Ek dink egter lui perde is dikwels slim genoeg om kortpad te kies en energie te spaar. Dom luiheid, soos ledigheid, is miskien die Duiwel se oorkussing maar vir my is intelligente luiheid die moeder van innovasie.

Net ʼn lui oermens wat nie meer wou loop nie sou die wiel kon uitdink en die motorkar was ʼn briljante alternatief vir lui ouens wat nie meer flukse perde wou voer nie. Luiheid het Isaac Newton se somme op papier verander in vingers op slimfoonrekenaars en Shakespeare se veerpen en inkvingers vervorm na vandag se woordverwerkingsprogramme wat jou spelling korrigeer al skryf jy spookstories in Sanskrit.

Ek noem hierdie dinge want dit het my met hierdie feesgety opgeval hoe my kleintydse Kerskaartjies deur digitale kuberkaartjies via die Internet oorgeneem is. Jy hoef nie eers jouself met ʼn penkrap op ʼn kaartjie te ooreis nie. Druk net ʼn knoppie en stuur ʼn geanimeerde kuberkaartjie van vallende sneeu, vlieënde takbokke en klingelende sleeklokkies in stereo. Lekker lui.

Maar dan was die wêreld se eerste kommersieelgedrukte Kerskaartjie ook die produk van ʼn regte luiaard. ʼn Engelse ou.

In 1843 was die Londenaar, sir Henry Cole, so moeg daarvan om persoonlike boodskappe aan familie en vriende te krabbel dat hy sy vriend die kunstenaar John Callcott Horsly gekry het om die wêreld se eerste gedrukte Kerskaartjie te ontwerp met die boodskap: “Merry Christmas and a Happy New Year to you”. “Merry” het toentertyd die betekenis “geseënd” gehad.

Die wet van onbedoelde gevolge het egter toegeslaan. Horsly, wat as “Clothes-Horsly" bekend gestaan het omdat hy teen die gebruik van naakte modelle deur kunstenaars betoog het, se kaartjie het goedgeklede mense uitgebeeld met baie kos en drank, waaronder ʼn kind wat aan ʼn glas wyn teug. Dit het die Britse anti-alkohol geheelonthoudingsbeweging stormdronk van woede gemaak.

Cole se ongebruikte oorskietkaartjies het in die mark beland en so ʼn plesierige toekoms vir posmeesters geskep met allerlei groetekaartjies regdeur die jaar van stout Engelse strandkaarte na word-gou-gesond boodskappe.

En so het die wet van onbedoelde gevolge met Cole se lui-innovasie meer onlangs op ene Craig Shergold in Engeland toegeslaan.

Op die ouderdom van nege jaar is Craig met terminale breinkanker gediagnoseer waarna vriende en kennisse ʼn kettingbrief begin het dat mense aan hom word-gou-gesond groetekaartjies moes stuur sodat hy in die Guinness Boek van Wêreldrekords kon verskyn. Hy het toe wel sy inskrywing behaal maar ʼn Amerikaanse biljoenêr het hom na die VSA geneem en betaal vir operasies wat hom genees het.

Vandag is Craig Shergold ʼn gesonde 33-jarige maar die kaartjies stroom steeds in tot so ʼn mate dat hy nou na raming al meer as 350 miljoen kaartjies ontvang het. Die Britse poskantoor het hom selfs sy eie poskode in Surrey gegee.

Hy verskyn nooit in die publiek nie behalwe om nou en dan te vra dat die pos tog asseblief nou moet ophou maar daar is te veel dom flukse perde wat nie flou wil word en die vloed van kaartjies bly ontembaar.

Dis hoekom ek my handjievol kuberkaartjies tydens hierdie feestyd so waardeer het.