Monday, 27 May 2013

Die klavier

In Beeld as rubriek op 11 Mei 2013


Leuens is dikwels gebuigde waarhede. Waarhede is nooit gebuigde leuens nie.
President Richard Nixon van die VSA het byvoorbeeld die waarheid lelik gebuig tydens die Watergateskandaal maar dit mooi reggetrek met sy opmerking dat, as jy pragtige musiek wil speel, moet jy die swart en wit note saamspeel. Die heelal bestaan nie net uit swart gravitasiekolke en ook nie net uit wit lig nie. Dis soos Nixon se musiek. Ongebuig waar en saam. Oukei, tensy jy ʼn Einstein-haarklower is.
So staan ek nou die dag as ʼn klein hartklopspikkel in die heelal in ʼn aftree-oord in Hermanus en ek kyk na die swart en wit klawers op Erna se klavier. Erna is nou in haar tagtigs en haar klavier, ʼn Otto Müller met twee ingeboude kandelare en pragtige houtsneewerk wat in die 1800’s uit Berlyn via Durban ingevoer is, het ʼn interessante musikale rol in die gravitasiekolke en ontploffingslig van die Anglo-Boere-oorlog gespeel.
“My Ouma Gerhardina was sestien jaar oud toe die Engelse in die Anglo-Boere-oorlog op ons familieplaas tussen Harrismith en Memel aankom. Jy weet seker van die Engelse se brandbeleid om plaashuise en besittings te vernietig toe die mans op kommando was en die vrouens tuisgebly het.”
Ja.
“Wel, die Engelse het Gerhardina, haar ma en ander kinders uit die huis gejaag om die huis aan die brand te steek. Die sestienjarige Gerhardina smeek toe dat die Engelse offisier haar klavier moes spaar. Hy sê toe dat, as sy vir hom iets sou speel, hy dit sou oorweeg.”
Ek dink aan my dogter Karen en haar liefde vir musiek.
“Die soldate dra toe hierdie klavier na buite en weet jy wat sy vir hom speel? Home Sweet Home. En skielik was daar ʼn vredesoomblik in die oorlog tussen Ouma Gerhardina en die offisier,” sê Erna, “want hy het in trane uitgebars. Die klavier is gespaar.”
 
Na die tyd lees ek die liriek op:
Mid pleasures and palaces though I may roam,
be it ever so humble, there's no place like home.
 
Wit en swart note het twee teenoorgestelde oorlogshuise in ʼn lied saamverweef.
 
“Dit was seker maar hierdie klavier se Home Sweet Home wat die offisier oorreed het dat Gerhardina-hulle by hulle afgebrande huis kon aanbly. Die murasie was reg by die Drakensberge en die vrouens het die res van die oorlog in ʼn grot gaan bly.”
 
“En die klavier?”
 
“Die plaaswerkers, wat natuurlik almal swart was, het die klavier na hulle kraal geneem en dit opgepas.”
 
Ek wonder, het die vingertjies van kinders die vreugde van musiek op hierdie swart en wit klawers in daardie kraal ontdek?

“Vir die res van die oorlog het die plaaswerkers vir Ouma Gerhardina en haar familie kos na die grot geneem. En na die oorlog het Gerhardina haar klavier van die werkers teruggekry.”
Wat ʼn les.

Swart en wit note op ʼn klavier in Hermanus het nie net meer as ʼn honderd jaar gelede vrede tussen Boer en Brit geskep nie maar ʼn vertrouensband tussen wit en swart.
Musiek is vandag steeds die ware, ontasbare vredesband tussen mense van alle rasse.

Miskien moet dit meer gebruik word.


  

 

 

No comments: