Monday, 22 April 2013

As ʼn tornado ʼn rots opsuig

Hierdie het as 'n rubriek in Beeld op 30 Maart 2013 verskyn.

Jy hoef nie ʼn opgeleide demografiese spoorsnyer te wees nie om te weet dat die spore van die Suid-Afrikaanse diaspora die hele wêreld vol lê. So het ek nou elf jaar lank my eie Suid-Afrikaanse spore in die omgewing getrap waar Elizabeth II en Philip in die kamers bo hulle winkel oorsee woon. In die proses het ek agt jaar lank my Briewe uit Brittanje aangestuur.
Dinge het nou egter verander wat miskien gedeeltelik verklaar kan word aan die hand van die Mosselbaaise Weerstasie — ʼn rots so groot soos ʼn rugbybal wat aan ʼn tou op die Mosselbaai-gholfbaan hang met ʼn bord wat die volgende sê: As die rots nat is reën dit; As die rots swaai is dit winderig; As die rots warm is, is dit sonnig; As die rots koud is, is dit bewolk; As die rots wit is sneeu dit; As die rots blou is, is dit koud; As die rots weg is, is dit ʼn tornado.


Dis ʼn meteorologiese feit dat ons almal van tyd tot tyd persoonlike storms in ons lewens ondervind. So het ʼn persoonlike tornado van die afgelope maande my in sy tregter opgeslurp, weggeneem uit Brittanje en teruggeplaas in sonnige, kalm Suid-Afrika wat beteken dat hierdie my laaste Brief uit Brittanje is.

So wat is die oorkoepelende les wat jy leer as jy jou land verlaat en na elf jaar weer terugkom?
Laat my toe om met ʼn storie te begin wat my ouma my vertel het van toe sy so ses of sewe jaar oud was.

Sy het grootgeword op ʼn plaas in die distrik van Philippolis waar daar ʼn groot probleem in die huis was want ʼn spook met ʼn skril stem soos witkryt op ʼn swartbord het elke nag die donker gang afgehardloop en giggelend deur toe kamerdeure en selfs mure ingesweef. Dit was nogal steurend want die spook het snags ʼn sleepketting oor haar bene getrek waar sy in die bed gelê het en dan laggend verder beweeg om die ander familie te gaan pla.

Haar pa en ma het lank gepraat en toe besluit. Hulle moes wegkom van die spook. Hulle moes trek.
Hulle het nog nie ʼn “horseless carriage”, oftewel motorvoertuig, besit nie en dus hulle wa met al hulle besittings gepak.

Met die huis dolleeg en alles ingeprop in die ingespande wa kom die plaaslike smous toe daar aan en stop in ʼn stofwolk van perdepote en wiele.

“Hei, wat gaan hier aan?” vra die smous.
Dis toe dat die seilflap aan die agterkant van die wa stadig oopgaan, die spook sy kop uitsteek en uitroep: “Ons trek!”

So daar is die diasporiese les vir almal wat ʼn land verlaat.
Jy trek nie alleen nie. Jou spoke gaan altyd saam. Jy mag Suid-Afrika verlaat maar die geraamtes in jou kas trek saam na Perth, Parys of Phnom Penh.

Wanneer jy dan weer terugkeer bring jy nuwe spoke van die ander kant saam na Pretoria, die Paarl of Phalaborwa.
Drome is klein persoonlike rolprente. In ʼn sekere sin is jou landsherinneringe miskien niks anders as persoonlike rolprente oor spoke nie.



 



No comments: