Tuesday, 27 November 2012

’n Kompleks veel anders as onse Nkandla

Hierdie rubriek het op Saterdag 24 November 2012 in Beeld verskyn.

Winston Churchill het gesê geweldige kompleksiteit lei tot geweldige eenvoud.

Miskien kan dit op die Nkandla-debakel van toepassing wees, want ek raak eenvoudig geweldig moeg as ek die ingewikkelde Nkandla vergelyk met Chequers, die landelike huis van Britse premiers sedert 1921.
Moegheid is miskien gepas, want die Nkandla-munisipaliteit se webwerf meld dat Nkandla afgelei is van die werkwoord “khandla”, wat Zoeloe is vir “moeg, uitgeput” nadat koning Shaka daar uitgeslaan en gekla het dat hy gedaan is.

Ek kan eerstehands die Moeë Nkandla-huis met Chequers vergelyk, want ek is nou al sewe jaar lank ’n lid van die Ellesborough-gholfklub, wat gebou is op die eiendom van Chequers.


Elke Britse premier word ’n erelid van dié klub, maar nie almal benut dit nie. Harold Wilson en Denis Thatcher was gereeld in die klub, maar vir ouens soos Gordon Brown en Tony Blair was gholfstokke so vreemd soos balletskoentjies vir ’n bosveldboer.
Ons Moeë Huis het natuurlik nie ʼn gholfbaan nie soos op Chequers waar oud-president Bill Clinton op besoek oor ʼn lae heining by ʼn huis langs die eerste skoonveld gespring het en ʼn bruid en bruidegom by ʼn huwelikspartytjie verras het as internasionale ongenooide gas. Maar sal daar ʼn bed in die Moeë Huis wees vir ʼn Clinton of Obama?
In teenstelling met die finansiële grysheid om Nkandla lê Chequers se oorsprong in goeie geldbestuur.

Dis genoem na ’n vorige eie­naar wat in die Britse tesourie (Exchequer) gewerk het, waar ’n tafel met geruite blokke in die Middeleeue gebruik is om belasting te bereken. Soos ’n Engelsman sou sê, het Nkandla ’n ander soort “checkered” agtergrond.


Wêreldpolitici vind dit dikwels “ongerieflik” om arm te wees. Britse premiers leef egter in die Chequers-geldbestuurtradisie.
Toe Margaret Thatcher destyds uitvind dat dit £5 000 per jaar kos om Chequers se swembad te verhit, het sy haar dogter se droom van private swembadgebruik verydel deur die verhitting af te skakel. In teenstelling met die Moeë Huis is Chequers nie die bate van enige private indiwidu nie en het dit net 10 slaapkamers. Margaret Thatcher het selfs haar dogter uit haar kamer geskop om ʼn bed aan Indië se eerste minister Indira Ghandi te verskaf.

Die Moeë Huis verskil, want dit het verkoeling wat – kuggie – effens duurder is as Thatcher se verhitting.
Veiligheid? Chequers het lae heinings met ’n paar kameras en ’n openbare wandelpad wat deur die eiendom sny. Wandelaars met hul honde het ’n lekker uitsig op die huis. Nogal effens anders as onse Nkandla, vermoed ek.

Chequers het wel ’n interessante verbintenis met Suid-Afrika. Bo-op ’n heuwel op die oorspronklike eiendom, met ’n uitsig op my gholfbaan en die Chequers-landgoed, is daar ’n monument ter ere van 148 soldate van die plaaslike regiment wat in die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika gesneuwel het. In die beste Suid-Afrikaanse tradisie het diewe die monument
se bronsgedenkplaat in 1972 gesteel.
Chequers met die monument ter ere van gesneuweldes in die Anglo-Boere-oorlog op die heuwel
 
Sou dit nie beter gewees het as huidige en toekomstige Suid-Afrikaanse presidente eerder die Chequers-model ingespan het nie?

En wat van ’n monument op daardie eiendom vir Suid-Afrikaners wat in die Battle of Britain gevlieg het?
Nee, wag nou. Dis miskien te kompleks, selfs vir ’n Churchilliaanse eenvoudige antwoord.

 

Monday, 5 November 2012

ʼn Gat in die kop is geen redding nie

In Beeld gepubliseer op Saterdag 27 Oktober 2012

Soos ʼn besoekende ridder sonder perd het ek vandeesmaand in Sun City ʼn situasie gered. Vroegoggend het my dogter Karen vir die Huisgenoot Skouspel gerepeteer en het ek die fort in ons wooneenheid gehou. Dis toe dat my kleinseun Ben baie rustig sê: “Oupa, hier is ʼn bobbejaan in die huis.”
Soos ʼn Lancelot met skeerseep op my wange as my enigste wapen storm ek toe nader en vind nie ʼn bobbejaan nie maar vyf blou-ape op ʼn ontbytstrooptog. Terwyl ek hulle by die voordeur uitjaag kom nuwe ongenooide brekfisgaste in by die agterdeur en toe ek dink almal is weg sit een weer in ʼn venster en beloer my met skuldige Bernie Madoff-oë. My sorgsaamheid tydens die Groot Aaproof van 2012 was egter nie goed genoeg om die inhoud van ons vrugtebak te red nie.
 
ʼn Week later op ʼn gholftoer met 24 ander ouens red my medespeler, Bryn Doherty, twee vreesbevange klein eendekuikens wat in ʼn diep sandkuil met hoë wande geval het. Toe die tweede eendjie uit sy hande na die water skarrel sê ek vir hom dat, as gholf ʼn Duckworth-Lewismetode gehad het ek ʼn voëltjie aan hom sou toegeken het. Miskien kan niemand jou van ʼn flou grap red nie.
Daardie twee reddingsdade het my herinner aan ʼn uiters eienaardige lokaal waar lewens lank gelede gered was die laaste oorblywende Victoriaanse operasieteater, van alle plekke, bo in ʼn kerksolder in Londen. Dis ʼn blok of wat weg van die London Shard, die hoogste gebou in die Europese Unie, wat nogal toepaslik soos ʼn vlymskerp stuk glas 95 vloere hoog die lug insny.
 
In daardie operasiesaaltjie is slegs eerlike vrouens (geen prostitute nie, asseblief) in die eerste helfte van die 1800’s geopereer en hulle was almal arm. Rykes is in hulle eie huise geopereer.
Die pasiënte moes ook instem dat studente in rye vanaf besigtigingsplatforms “ingepak soos harings in ʼn vaatjie” volgens een oudstudent die operasie kon toekyk.
Om daar uit te kom moet jy vandag ʼn baie steil en nou spiraaltrap vier vloere uitklim terwyl jy jouself half optrek met ʼn dik tou maar destyds is pasiënte met die huidige brandtrap ingebring wat reeds skrikwekkend moes wees. Sonder verdowing en antiseptiese metodes was hulle oorlewingskanse op die hout-tafel maar skraal. Volgens die museum daarbo het ʼn snydokter in daardie dae ʼn stywe, stink en bebloede voorskot gedra en eerder sy hande ná ʼn operasie as daarvoor gewas. Tot vandag word snydokters in Brittanje nie as “dokter” aangespreek nie maar “meneer/mejuffrou/mevrou” omdat hulle oorspronklik as barbier-chirurge sonder grade geopereer het. Hulle werk was om die pasiënt se gille te ignoreer en soos knap slagters vinnig te kap en sny.
Die ou operasieteater se uitgestalde primitiewe mediese instrumente daarbo lyk ook vandag meer soos folterapparaat. Daar is ʼn amputasiesaag wat handig in ʼn roostuin kan wees en instrumente vir alledaagse prosedures soos bloedlating en trepanasie, ʼn skrikaanjaende aksie waarin die skedel met ʼn boor sonder verdowing geperforeer was “om pyn te verlig” — ʼn moroniese oksimoron, soos elke aap weet.
Ek sou verkies het om nie met trepanasie gered te word nie, dankie.