Monday, 15 October 2012

Ware vryheid het nie wagte nie

Hierdie het in Beeld verskyn op 29 September 2012

Vandeesmaand se Brief uit Brittanje kom eintlik uit Los Angeles. Tot onlangs kon die modieuse man hier vir $250 000 in die Kanadese ontwerper Dussault  se winkel sy boude inwikkel in die wêreld se duurste opsetlik geskeurde jeans. (Mnr Modeslaaf, dis steeds beskikbaar aanlyn.) Oukei, dis 13 keer gewas en getooi in goud, robyne en diamante wat elke ware man se hart sal steel maar, hei, vlugsout asseblief, dis steeds ʼn geskeurde broek.

Dis hoe ek hier as ʼn passasier in my vriend Don Bogart se 1964 Dodge Dart vir hom sê dat sy kar ook uiters modieus is met ses of sewe repe geskeurde voering wat van die binnekant van die kar se dak soos gedroogde bokvelle hang.
 
Miskien nie ʼn kwartmiljoen dollar werd nie maar met verfwerk net so mooi verbleik soos geskeurde jeans en met ʼn besondere plakker op die agterste buffer – “I spent some time at Old Folsom Prison” (en dan in klein letters ... “Museum”).

Soos Chaucer se pelgrims het ek en Don ʼn ander museum besoek, die Huntington in Pasadena, om te gaan kyk na die handgeskrewe en geïllustreerde Ellesmere-manuskrip op velum (kalfsvel) van Chaucer se Canterbury Tales. Dit dateer van 1400-1405.

En daar langs die Ellesmere staan ons toe by ʼn glaskas met ʼn oorspronklike Gutenbergbybel ook op velum – een van die laaste vyf vollediges ter wêreld. Dis na raming $25 tot $35 miljoen werd. Vir die somsukkelaar, dink aan meer as ʼn kwartmiljard rand.

Dit val my toe op dat daar by hierdie twee skatte nie ʼn wag in sig was nie. Hoekom nie? Miskien omdat ʼn vrye samelewing nie gewapende wagte nodig het nie. In ʼn vry gemeenskap is elkeen sy eie wag. Wat miskien verklaar hoekom Amerikaners gewere kan koop met dieselfde gemak as kaashamburgers. Hier is selfs ʼn radio-advertensie met ʼn ou wat sê: “Don’t be a victim; buy a gun!” Dis die VSA. Vry.

Ná die museum ry ons na Long Beach-lughawe waar Don twee privaatvliegtuie onder seildakke aanhou met onderdele wat op oop tafels versprei lê. Daar was so 40 privaatvliegtuie in twee rye – ʼn hele paar met braai-apparate langs die vliegtuie. Lekker sosiaal. Weer nie ʼn wag in sig nie. Nie eers by die hek nie.

Maar meer opvallend, die vliegtuie staan teen ʼn draadheining en meters weg oorkant die pad is ʼn hoë-sekuriteitfabriek waar Boeing C-17 Globemaster militêre vragvliegtuie gemonteer word. Vleisbraaiende privaatvliëeniers sonder wagte oorkant ʼn militêre fabriek? Dis nou ware vryheid.

Vanaf Don se afdakke kyk ek toe uit oor die vliegveld na waar ek jare gelede as ʼn uitruilstudent by McDonnell Douglas gewerk het (nou deel van Boeing) en ek onthou hoe ek middagetes kon gaan loer hoe Skyhawk vegvliegtuie gemonteer word. Sonder ʼn wag.

Nelson Mandela het praktiese vryheid opgesom met sy woorde: om vry te wees is nie net ʼn kwessie van om jou kettings af te werp nie maar om te lewe op ʼn manier wat die vryheid van ander respekteer en verbeter.

ʼn Vry land het nie wagte voor restaurante nodig om gewapende roof te keer nie. En is daar ook nie godsdienstige wagte wat religieuse kuddemoord aanhits  nie.