Sunday, 9 September 2012

Die soldaat wat eerder moes lieg en drank skink

Hierdie stuk was my rubriek in Beeld op 1 September 2012.

Ek het op ʼn slag op Fancourt se bomkraterige Links-gholfbaan gesê ʼn Duitser met ʼn Eerste Wêreldoorlog- punthelm gaan enige oomblik van agter ʼn duin verskyn en sê ons moet hensop. Toe antwoord my medespeler, ʼn Engelsman, droogweg: “Good building land gone to waste.”. (Verskoning mev. Plattner.)

Vandeesmaand het ek die regte loopgraaffront in die Somme in Frankryk besoek. In ʼn 1991-model Amerikaanse rammelmotor wat ek vir twee kiste Kaapse wyn bekom het. Regtig.

Toe ek met my afslaankap Chrysler Le Baron sportmotor, linkerhandstuur en korrek vir Europa, die veerboot in Dover na Calais inry het die motorenjin begin roggel en toe ek die aand op Abbeville, ʼn groot hospitaalpunt in die Eerste Wêreldoorlog, by my hotel stop was die rammelmotor ʼn ambulansgeval. In simpatie met sy siek enjin het sy vrot seildak boonop ook ʼn skeur ontwikkel.

Die volgende dag was ʼn fiasko. Soos ʼn medikus in die Groot Oorlog het ek verbande op die dak gesit maar die enjin? Meer roggelend. Ek stop toe by ʼn garage vir hulp en ek weet wat die knelpunt is maar ek weet ek nie eers wat ʼn fan belt in Afrikaans is nie, watwou nog in Frans. Vir die puris, dis une courroie. ʼn Franse fan belt is ʼn vroulike woord. Mm.

Kortom, ek en die Le Baron (’n witte, nie ’n rooie nie) het ʼn helse dag gehad met ons courroie-probleem maar ons het voortgebeur.
Die Wit Baron na sy besoek aan die Somme in die wingerdloopgawe van Boergondië

Daardie aand bly ek oor in ’n dorpie genaamd Albert in die Somme en my rammelkmotor se moeilikheid stoei met my kop. Ek sit in die hotelrestaurant tussen 12 pierewaaier Franse vegvlieëniers op ʼn drinkprogram of iets. Vergeet van fan belt, wat is ʼn snob in Frans? Hulle ignoreer hulle 12 grondpersoneel heeltemal. Die twee groepe praat nie saam nie. Hulle sit verwyderd van mekaar.

En ek is seker nie een van die twee uiteenlopende groepe merk ons kroegman op nie met sy hare gejel en teruggekam asof hy vir ʼn vyandelike bom geskrik het. Hy is ʼn kind. Miskien 15 of 16. Hy moes beslis oor sy ouderdom gelieg het om agter die kroeg te staan.

Die volgende oggend besoek ek Delvillebos waar 3200 Suid-Afrikaanse soldate in Julie 1916 ingestuur is en waaruit, na vyf dae van hel, net 143 lewend uitgekom het.

Ek stap tussen die grafte.

Ene J J Taljaard rus daar. Daar was ʼn Taljaard op skool met my. Dit tref my. Dan stap ek na F W Beeton met die springbok op sy grafsteen wat naby hom lê.

En skielik het ek sout in my oë.

F W Beeton was maar net 16 toe hy daar gesterf het. Miskien selfs jonger want baie outjies het destyds gelieg om na die Front te gaan. Hy was ook maar net grondpersoneel. Geen flashy vlieënier nie. Net daar op die grond. Nou in die grond.

En ek wens toe dat daar ʼn internasionale wet kon wees dat, as ʼn kind regtig oor sy ouderdom wil lieg, hy dit net mag doen om agter ʼn kroegtoonbank te wees en nie agter ʼn geweer se visier nie.

Dit sal sout in die oë vir toekomstige nageslagte voorkom