Saturday, 28 July 2012

Die 100 meter vir mans: net te kort vir ʼn dop

Het op 28 Julie 2012 in Beeld verskyn as Die prinses, die marathon en die loopdop

Voor gisteraand se wonderlike openingskouspel in Londen van die wêreld se eerste Twitterlimpiese Spele was die Britse pers vol selfoonfoto’s en waardevolle kort teksboodskappe oor atlete se deurmekaar kamers en hulle reis-, eet-, drink- en ablusiereëlings.

Londen 2012 is professioneel digitaal. Londen se eerste Olimpiese Spele van 1908 was egter deurmekaar en amateuragtig volgens Graeme Kent se onlangse boek London’s Olympic Follies: the Madness and Mayhem of the 1908 London Games.

Oplettende lesers sal sekerlik nou vra: Wat sou op Facebook en Twitter tydens Londen 1908 verskyn het?

Miskien baron Pierre de Coubertin, grondlegger van die moderne Olimpiese Spele se woorde: “It will be necessary to avoid copying the Olympic Games of London.” Of Herbert Moran, toerkaptein van die Australiese goue medalje-rubyspan, toe hy gevra is wat hom die meeste beïndruk het, en geantwoord het: “Terwyl ek met die span was, het nie een van die 31 spelers veneriese siekte opgedoen nie.”

Met die marathon van Londen 1908 kon die tienjarige prinses Mary, kleindogter van koning Edward VII, getwiet het: “Wow, al die marathonatlete het reg onder my weggespring!” Die wegspringpunt was op haar versoek onder haar speelkamervenster in Windsor-kasteel en die afstand van haar speelkamer tot by die koninklike losie by die wenstreep in Londen was 26 myl en 385 jaart – van toe af die standaardafstand van die marathon! Inderdaad ʼn invloedryke tienjarige.

Ek kan my indink in die twiete van atlete na afloop van die 1908-marathon.

Drink om elke draai en jou medalje sal waai. Mamma mia, volgende keer vino rosso eerder as brandewyn! Hei, ek was slim om net een sjampanje tydens die hardloop weg te slaan. Okei dit het my maagkrampe gegee maar nie rigtingbedonnerd gemaak nie.

Drank en atletiek? Ja.

Charles Hefferon was Suid-Afrika se top marathonatleet daardie dag. Hy was ʼn immigrant wat teen die Boere gaan veg het en aangebly het – ʼn ou wie se aanslag teen die Boere miskien effens ondiplomaties tydens die Spele in ʼn koerantberig in die Daily Chronicle beskryf is: “He went to South Africa during the Boer War and there learnt to run.”

Hefferon het voorgeloop totdat hy onverstandiglik stop, ʼn glas sjampanje van ʼn toeskouer aanvaar en dit in sy gorrel afgooi. Die resultaat? Maagkrampe wat hom tydelik tot ʼn looppas gedwing het en waartydens die Italianer Dorando Pietri hom verbygesteek het. En toe kom waarskynlik die Olimpiese Spele se beroemdste insident. Pietri het die stadion eerste ingesteier, so moeg dat hy eers in die verkeerde rigting gehardloop het, terug gejaag is en toe vier keer voor die wenstreep ineengestort het. Barmhartige beamptes het hom telkens opgehelp tot oor die wenstreep. Dit het gelei tot protes en sy diskwalifikasie. So is Hefferon se derde plek opgegradeer na ʼn silwermedalje vir Suid-Afrika.

In sy boek skryf Graeme Kent egter dat Pietri op ʼn ander vlak “moeg” was want Joe Deakin, Britse wenner in die driemyl-spanresies, het gesê: “Die probleem was dat mense op die sypaadjie hom glase brandewyn in plaas van water gegee het.”

Hardehout maak goeie silwer.

En nou 1908-nuus op ʼn minder alkoholiese vlak: Suid-Afrika se 19-jarige Reggie Walker het die goue medalje vir die 100 meter mans verwerf – vandag steeds die jongste Olimpiese kampioen in dié afstand.

Miskien is ʼn 100 meter net te kort vir ʼn dop.

Tuesday, 3 July 2012

Digitale spookstorie

Het as rubriek in Beeld van 30 Junie 2012 verskyn.

Erkenning by Bletchleypark vir die werk van Dillwyn Knox.


Ek en ʼn spook gaan binnekort hier in Engeland verhuis. In die voetspore van my ouma.

My pa het altyd gesê dat die Groot Trek nooit vir my ouma opgehou het nie. Dis waarskynlik hoekom ek haar storie onthou van hoe sy kleintyd van hulle plaas op Philippolis moes trek. ʼn Hiperaktiewe spook het saam met hulle in die plaashuis gewoon. Snags het die spook ʼn ketting oor my ouma se bene in die bed getrek en dan koggelend in die gang verdwyn. So het haar ouers besluit dat hulle noodgedwonge moes trek. Met al hulle besittings ingepak in die ossewa was alles reg toe die plaaslike smous op sy perdekar inry en in ʼn stofwolk stop.

“Wat gaan hier aan?”

Dis toe dat die waflap aan die agterkant van die ossewa oopgaan, die spook glimlaggend uitleun en die smous inlig: “Ons trek.”

Nou ja, ek deel nou al die afgelope 10 jaar my studeerkamer hier in ʼn huis in Buckinghamshire met ʼn spook – Dillwyn Knox. Hy was ʼn briljante akademikus met ʼn doktorsgraad van Cambridge, ʼn vriend van John Maynard Keynes, en die kodebreker wat al in die 1930’s met die Poolse hulp begin het om die Duitse Enigmakode te breek. (Die Pole het die Enigmaplanne in die pos aan die Duitse ambassade gesteel.)

In die Tweede Wêreldoorlog het Knox met 8000 slimmerikke daagliks Enigma by Bletchleypark hier naby ontsyfer. Daar was gesê dat Knox en sy mense Hitler se geheime boodskappe dikwels gelees het voor Hitler dit ontvang het. In hierdie studeerkamer, met houtpanele presies soos dié van Bletchleypark se biblioteek, het ʼn afvaardiging van Buckingham-paleis in Januarie 1943 in die geheim (sodat die Duitsers nie sou weet nie) Knox die Companion of St Michael and St George toegeken, ʼn orde net onder ʼn ridderskap. En net hier waar ek sit het hy ʼn maand later aan limfkanker gesterf.

Knox het egter ook indirek die wêreld onherroeplik verander want, toe die Enigmakodes al hoe meer kompleks begin word het, het hy saam met ene Alan Turing by Bletchleypark begin werk. Onder Knox het Turing die beginsels van algoritmes en rekenarisering verfyn en die eerste werklike rekenaar, die Kolossus, gebou. Sy werk was só geheim dat die wêreld eers in die laat 70’s, toe geheime Britse lêers publiek geword het, uitgevind het dat Turing die vader van die rekenaar was en waarskynlik die belangrikste grondlegger van ons huidige digitale wêreld.

In teenstelling met Knox het Buckingham-paleis nooit Turing vereer nie want hy was gay en, om tronkstraf vry te spring, moes hy gedwonge chemiese ontmanning aanvaar. Op 41 het hy gesterf aan sianiedvergiftiging en dis nou onseker of dit per ongeluk, moord of selfmoord was maar, soos Knox, het hy verdwyn.

Die punt is egter dat, waar ek nou ook heen verhuis, die spook van Dillwyn Knox saam met my trek en eintlik saam met hom die spook van Turing.

Dis egter nie so vreeslik uitsonderlik nie want, in ons nuwe digitale wêreld van kunsmatige intelligensie, loop elke persoon op aarde vandag rond met die spook van Alan Turing – en daarom ook Knox.

Ons trek almal met ons eie spoke.