Wednesday, 6 June 2012

Olimpiese Euro-streke

Hierdie rubriek het in Beeld op Saterdag 26 Mei 2012 verskyn en is vir daardie dag geskryf.


Griekeland het ʼn mooi sakeplan: mitologie, ruïnes en ʼn luilekker strandlewe. Op Olimpiese skaal.

Die Olimpiese Spele is self ʼn Griekse uitvoerproduk. Ek het daaraan gedink toe ek nou die dag in die Londense Olimpiese Park verby Brittanje se hoogste kunswerk, die ArcellorMittal Orbit, stap. Dis ʼn holderstebolder, inmekaargedraaide staaltoring, 35 verdiepings hoog langs Londen se Olimpiese Stadion. Dit lyk soos ʼn oorbesette hoek van ʼn skrotwerf. Of ʼn moderne ruïne. Athene het die Akropolis. Nou het Londen ʼn Wrakopolis.



Ek het met 46 000 ander mense die openingsgeleentheid van Londen se Olimpiese Stadion bygewoon. Dis ʼn mooi stadion maar so groot dat ek eerder die skarrelende atletiekmiere op die reuse stadion-TV-skerm gevolg het. Die beste sitplek vir die Olimpiese Spele? Die leunstoel voor jou TV in Pofadder of Polokwane.

Die Olimpiese vlam is intussen met sonenergie in Griekeland opgeflikker en die fakkels word nou kruis en dwars oor Brittanje na die stadion aangedra. Hierdie stokou aflostradisie is in 1936 gevestig deur daardie heroïese vegter vir vrede en menswaardigheid deur sport – Nazi propagandahoof Joseph Goebbels.

Moet dit nou asseblief nie onder die belt lees nie maar ʼn ander simboliese Griekse vlam het egter ook die afgelope 60 jaar goed gebrand in Buckingham-paleis waar koningin Elizabeth II volgende week amptelik haar diamant-regeringsjubileum as monarg vier. Prins Philip, my held en die man met die beste humorsin in die koninklike familie, was 91 jaar gelede ʼn Griekse baba en die hele 60 jaar aan haar sy.

Griekeland se grootste uitvoerproduk het egter uit die mitologiese elemente van sy besigheidsplan gespruit want die Europese kontinent is vernoem na Europa, ʼn Fenisiese (Libanese) prinses wat deur Zeus ontvoer is. Zeus was slim genoeg om homself in ʼn wit bul te omvorm (let wel: nie blou of pienk nie) en mej. Europa was dom genoeg om op sy rug te klim. (Meisies, moenie enige man se rit sommer aanvaar nie, asseblief.) Daarmee het Griekeland dus nie net aan die kontinent nie maar ook aan die benamings van die Europese Unie en die euro-geldeenheid geboorte gegee.

En nou blyk dit dat Moderne Griekeland miskien Europa en die euro kan doodmaak. Dis asof Europa weer op Zeus se rug geklim het want die luilekkerheid van die Griekse besigheidsplan het ʼn Europese krisis veroorsaak met ʼn Olimpusberg vol skuld en die afwatering van die euro. Die Griekse sakeplan se ruïnegedeelte kan nou na Brussel, Parys en Londen uitbrei.

En Europese politici hanteer hierdie inmekaargedraaide situasie met hulle beste wapens – glimlagte soos AVBOB-doodskishandvatsels.

In ander nuus: die Eurovisie-sangkompetisie (ook indirek vernoem na die genoemde dom mitologiese dame) vind vanaand in Baku plaas, die hoofstad van die Republiek van Azerbeidjan. Brittanje se inskrywing is die 76-jarige Engelbert Humperdinck wat gebore was as Arnold Dorsey – ʼn bietjie soos Gert Smit van Krugersdorp wat die rocksanger Gene Rockwell geword het. Net soos die Euro is die Eurovisie-sangkompetisie egter ook in ʼn krisis. Kritici voer aan dat daar soveel politieke gevangenes in Azerbeidjan is dat Engelbert eerder sy ou treffer “Please release me” vanaand moes sing.

Al wat ek weet is dat hierdie krisisse – die Europese Unie se unie-van-oneniges, die euro, die eurogebied en die Eurovisie-sangkompetisie – alles vir my Grieks is.