Sunday, 29 April 2012

Vooroordele oftewel Snide and Prejudice

* Snide and Prejudice (in opvolging van Jane Austin se boek Pride and Prejudice)

Hierdie stuk het op 28 April 2012 in Beeld verskyn.


In 1989 het sir Tim Berners-Lee van Engeland die internet ontwerp om internasionale navorsing te koördineer. In 2012 kan miljoene dankbare mense nou gewaagde kaalfoto’s van hulself in internasionaal kompromitterende situasies op sir Tim se innovasie plaas vir doktorale argeologiese navorsing in die jaar 3072.

As een van sir Tim se internasionale digitale pelgrims het ek verlede week my Facebook-profiel met ʼn banierfoto opgedateer van waar ek ʼn sestienjarige met die naam Tina soen, vernoem na die sangeres Tina Turner. Vir die aandag van dr Adriaan Argeoloog in 3072, ek moes betaal om haar te kus. Voornemende hygromanskrywers kan gerus ook van die volgende woorde leer: ʼn Fotograaf het die tere oomblik meesterlik vasgevang toe my gretige lippe Tina se glimlaggende mond streel en sy, sopnat en sonder ʼn draad klere met lang wimpers, my in die oë staar.

Maar hokaai! Moenie die polisie inroep nie.

Tina is ʼn dolfyn.

Ek het haar in Florida (dis nou in die VSA, nie Roodepoort nie) op ʼn speed dating interaksie-ekskursie vir soogdiere van parallelle wêrelde ontmoet waar sy kaalgatsoentjies in Orlando se Discovery Cove temapark verkoop.

Dit was wonderlik. Tina het my geleer dat dolfyne nie agterlik is nie. Inteendeel.



Ek wens net ek kon ook van Tina geleer het en nou die dag my eie snoet langer bo water gehou het.

Ek was in die trein na Londen vanaf Great Missenden waar die skrywer van Charlie and the Chocolate Factory, Roald Dahl, tot sy dood langs die spoor gewoon het. Voor my in die kompartement het twee regte Engelse here van so om en by 80, gebaaidjie en gedas, lekker gesit en gesels terwyl ek my koerant lees. Alles rustig.

En toe praat die een ou van Suid-Afrikaners.

“Suid-Afrikaners? Almal agterlik (“boorish” was die woord).

“Inderdaad”, antwoord die ander oom.

Ek het opgekyk, soos ʼn dolfyn wat uit die water loer. Ag nee wat ek is nie lus vir julle ou bekke in julle parallelle wêreld nie, het ek besluit, en toe weer onder water in my koerant ingeduik.

Vir 80-jariges is elke veralgemening ʼn geloof.

Die probleem is egter dat baie mense hopeloos te vroeg soos 80-jariges dink met te veel vooropgestelde vooroordele. Hei, Arabiere is skelm dolkdraers, Jode is geldgierig, Franse is kaaskouende witvlagswaaiers, Duitsers gestewelde outokrate, Italianers is almal bunga-bunga gigolo’s, Australiërs is sportiewe tronkvoëls, Afrika se bankes is rassiste, Afrika se swartes is rassiste en Engelse is snobiste. Oeps, miskien is die laaste geval nie heeltemal onwaar nie want ek weet van twee ou snobs op die trein uit Great Missenden.

Snobs soen nooit benede hulle gekose stratum nie. Ja nee die twee ooms het my laat dink aan een van Roald Dahl se ander boeke, Revolting Rhymes. Hulle sou sekerlik, soos hy, Gouelokkies as ʼn inbreker beskryf het.

Dahl se woorde oor Gouelokkies:
This is actually a book
About a brazen little crook.
Had I the chance I wouldn't fail
To clap young Goldilocks in jail.

Ek is natuurlik verhewe bo dit met geen vooroordele nie. Nie eers teen die seekoeivet Amerikaanse vrouens wat soos brommers in Disney se pretparke sit nie. Ek het hulle met plesier vir ʼn soen met die mooigeboude Tina verruil.

Rhynie Greeff

Wednesday, 4 April 2012

Die evolusie van klipgooi na kontantkroeg en van Moot tot louwarm bier


In Beeld Saterdag 31 Maart 2012.

Ek was in matriek op Neolities Hoër in Paleolitoria wat nou argeologies, volgens ANCelogiese wetenskap, deel vorm van die suidelike geomorfologiese kontinent Gontshwane.

Ja, oukei, ek weet dis ʼn bekvol wat net drie lesers met ʼn kennis van kontinentale plaattektoniek sal verstaan maar daar in die Paleolitoriese Moot het my boude skoolbanke blink gepoleer saam met die agterstewes van vroeë lewensvorme wat ek nooit sal vergeet nie.

Ek kan nie almal noem nie maar daar was Annmari Sapiens wat slim was. En sommer ook hoofmeisie. Carl Erectus was lank. Ek praat nou van kop tot tone. Ek weet nie van elders nie. Michiel Rhythmensis was ons Ringo Starr op skooldanse. Die meisies was mal oor Dries Dromicus se oë en Maretha Organiensis was die latere onderwerp van Charles Darwin se boek The Organisation of Species.

So het dit gebeur dat Maretha Organiensis ʼn reünie gereël het wat vandeesmaand in die verre ooste van Gontshwane plaasgevind het anderkant die geologiese formasie van Garstfontein.

Ek wou die reünie bywoon maar daar was ʼn probleem: as gevolg van vervlakste evolusie het ek ʼn Homo Britannicus geword — dis nou Darwinisties gesproke en nie Elton Johnistiese nie (alhoewel ek moet verklaar dat ek geen probleem met gevorderde Elton Johnisme het nie).

Ek moes tuisbly en kon dus nie met my eie oë waarneem hoe Darwin se voorspelling bewaarheid sou word dat die mens eendag van klipgooi na konferensiesentrum en kontantkroeg sou ewolueer nie.

Dit was tragies vir my want ek het die reünie gesien as ʼn herbevestiging van my wortels, ʼn terugblik na die bron van my eie evolusie. Ek wou weer aan my oorspronklike boereworskultuur raak alhoewel ek, as Suid-Afrikaner hier in die diaspora, intussen ook ingeskakel het by die Engelse bydrae tot wêreldkultuur — koue slaptjips met louwarm bier.

En dit het my laat dink aan hoe baie mense tweeledig of bipolêr geword het met ou en nuwe wortels in meer as een land. Sakelui, kunstenaars, sportmense. Dink aan Zola Budd byvoorbeeld. Daar is ʼn Van Wyk in Nieu-Seelandse krieket, ʼn Botha in die Engelse rugbyspan, ʼn Pietersen in Engelse krieket en ʼn Geldenhuys in die Italiaanse rugbyspan. In die VK word hulle soms beskryf as Plastiek Britte. Maar vir een of ander rede word sulke oorsese presteerders soms in hulle lande van oorsprong as verraaiers uitgekryt.

Hoekom? Ek dink sulke mense, regoor die wêreld, behoort beide die trots van hulle oorspronklike land en hulle aangenome land te wees.

Dis soos wanneer jy trou. Skielik het jy ʼn ring op jou vinger en twee families. Jou nuwe liefde vir jou skoonfamilie verdun egter nie die liefde vir jou oorspronklike familie nie want liefde is soos sonlig. Dit skyn op almal ewe sterk. Jou gebruik van sonlig op die strand verflou nie die sonlig op die ander mense om jou nie. Daarom dink ek jy kan ʼn Suid-Afrikaner wees wat ʼn ander land soos aangetroude familie kan liefhê. Ek dink die Suid-Afrikaanse familie moet trots wees op Suid-Afrikaners wat elders uitblink en besef dat jy ʼn liefde vir twee kante kan kweek sonder om jou oorsprong te verraai of kunsmatig in die nuwe plek te wees.

Ek moet egter toegee dat ek steeds boerewors en koue Knysna Bosun-bruisdrankies bo slaptjips en warm bier verkies.

Die ware vroeë lewensvorm evolueer laat.