Saturday, 25 February 2012

Ek en George Clooney blom net nie gelyk nie


Gepubliseer in Beeld op Saterdag 25 Februarie 2012.

Ek wil nou nie windgat wees nie maar ek het onlangs besef ek is baie soos die Hollywood-akteur George Clooney. (Hokaai meisies! Storm asseblief in enkelgelid. )

Sowel George as ek het bruin oë. Myne is ook ooglopend asemrowend want my dogter Karen het destyds op drie jarige ouderdom vir my gesê my oë is so mooi soos dié van Sandie haar basterkolliehond. Ja, in ʼn onlangse onderhoud met George kon die “bybel” van die filmindustrie, die Hollywood Reporter, net sowel van my geskryf het. Kennisse sal saamstem want George maak miljoene met koffie-advertensies terwyl ek miljoene koppies koffie drink.

Daar is egter meer want George sê hy val elke aand om 22:00 aan die slaap terwyl hy na vervelige televisieprogramme kyk. Maggies, dis wat ek ook doen. Hy word vyf keer snags wakker. Hene, ek ook. Oukei, ek word miskien meer as vyf keer per nag wakker, veral as ek te veel rooiwyn met ete gehad het, maar daar noem meneer Clooney dit sowaar dat hý ook soms te veel wyn drink. Enologies is ons een.

George kla dat hy nie sy vriende so dikwels sien nie. Hy het Brad Pitt ’n jaar lank nie gesien nie. Ek? Ek kan nie eers onthou wanneer laas ek en Brad in mekaar vasgeloop het nie. En dit kan nie toeval wees dat ek ook ʼn paar ouens ken wat ander mense se kinders grootmaak nie.

Daar is egter een aspek waar ek en George regtig hand-op-die-blaas staan want George sê hy voel dikwels baie eensaam. Jislaaik, daar is so ʼn tweesaamheid van eensaamheid hier dat ek miskien die verhoognaam Rhynie Clooney moet vat vir volgende jaar se Oscars.

So aantreklik soos wat George is kla hy dat hy al die trekpas van ʼn meisie gekry het, dit moeilik verwerk het en probeer het om haar terug te wen. Net soos ek. So onweerstaanbaar aantreklik soos wat ek is, veral met ʼn stukkie ham tussen my vingers vir my kleindogter se kat Cubby Bongo, so het ek ook al die trekpas gekry. Nogal onlangs.

En ek sukkel om aan te pas. Ja ek en George. Sensitief. Afgejak. Eensaam. Hy daar in sy villa op die oewer van die Como-meer in Italië; ek hier in Charles Dickens se Ye Olde Country of Ye Quaint Divorces. Ons is so eensaam ons hoor hoe die ongewenste hare van ’n ouer man in ons ore groei.

Daar is egter twee klein verskilletjies tussen ons.

In my (kuggie) asemrowende oë is dwelms dwaas terwyl hy toegee dat hy al met ernstige dwelms deurmekaar was.

Die tweede verskil? As jy jou handpalms in nat sement op ʼn Hollywoodsypaadjie kan druk is dit makliker om liefdesteleurstellings te oorkom – soos enige gemiddelde oorbevoorregte ou met fotogeniese presidensiële charisma weet. Ek, daarenteen, probeer my lewe bymekaarhou in die palms van mý hande waar dit die glibberige ordelikheid van ʼn waatlemoengroot jellievis het.

Alle mense is dieselfde, ek en George inkluis, want ons deel 35 persent van ons gene met die affodil. So hoekom dink ek hy blom meer as ek? Of gaan ek maar net laat blom?

Wednesday, 8 February 2012

Borsgif en worsgif is sexy


In Beeld op Saterdag 28 Januarie 2012 as "Van wors tot hond tot gif tot bors en Botox".

My sportkomentatorvriend, wyle Retief Uys, het my jare gelede vertel van die destydse SAUK-nuusleser wat ʼn berig gelees het oor vlugtende gevangenes wat op vrye voet was en toe ʼn nota van die interne taalpolisie by Aucklandpark ontvang het dat die korrekte Afrikaans gevangenes op vrye voete in die meervoud moes wees. Die volgende aand verander daardie nuusleser toe ʼn radioberig dat die Johannesburgse dameskoor uit volle borste gesing het.

Hier in Ye Olde Country of Ye Page Three Girls is daar nou ʼn klaaglied uit volle borste van 45 000 Britse vrouens oor (en lees dit asseblief met die spreekwoordelike aamborstige kuggie) hulle borsinplantings.

Die probleem is dat baie Emily Englands die afgelope tien jaar Barbie Boobingtons geword het met wulpse borste wat skielik nie lekker werk nie. Baie van hulle se goedbedeelde verleidelikheid was die produk van ʼn bankrot Franse maatskappy se silikooninplantings wat ongelukkig ook chemikalieë bevat het wat in brandstofbymiddels en industriële rubberbuise gevind word. Dis ʼn komplikasie want dis statisties bewese dat skoonbrandende enjins en die skoner geslag slegs by Formule 1 wedrenne bymekaar uitkom en dat ʼn restaurant in ʼn rioolplaas nooit drie Michelinsterre sal verwerf nie.

Dit blyk nou dat daardie deurskynende buustesakkies te maklik skeur en toksies raak, soms met fatale resultate.

Gif in die liggaam is tragies, veral by vrouens met werklike mediese behoeftes weens mastektomieë, maar ydelheid is ʼn ander storie. Verskoon my eie gif hier maar ek dink sy wat op haarself verlief raak sal haar mooiste glimlag vir haarself reserveer.

En dit bring ons by wors.

Die Latyns vir wors is botulus.

Almal weet Suid-Afrikaanse boerebotulus is so lekker dat dit selfs ʼn rioolplaasrestaurant suksesvol kan maak maar in die 19de eeu was die inhoud van wors so verdag dat baie Amerikaners geglo het dat dit hondevleis bevat en daarna verwys het as hot dogs. In die 1820’s het ʼn Duitse dokter, Justinus Kerner, voedselvergiftiging bestudeer en gevind dat swak voorbereide wors dit veroorsaak het. So het hy voedselvergiftiging as botulisme beskryf.

Na botulismesterftes in ʼn Belgiese nagklub het ʼn mikrobioloog in 1897 die nare botulisme bakterie geïsoleer – clostridium botulinium – wat nou vervaardig kon word, die kragtigste neurotoksien ooit. Een mikrogram en jy sterf onmiddellike weens verlamming. Medici het egter gou gevind dat ʼn inspuiting van ʼn piepklein rapsie botulismegif tydelike verlamming kon veroorsaak wat pasiënte met gesigspasmas kon genees. ʼn Pasiënt se vriende en familie kon nou sê: Hei, jy glimlag effens eienaardig maar jy lyk jare jonger. Wat hulle nie gesê het nie is: Hei, jy het die emosionele gesigsuitdrukking van ʼn slapende see-olifant. Maar wie gee om? Uiteindelik kon Kerner se worsgif elke ou tannie soos ʼn jong bokkie laat lyk. Vaarwel plooie. Vaarwel plastiese chirurgie. ʼn Bietjie worsgif en ek word ʼn filmster. Hoera vir Hollywood!

Die enigste probleem? Kerner se botulisme toksien was nie juis ʼn bekoorlike naam vir verleidelikheid nie.

Die beter benaming was Botox.

Gee daardie produkbestuurder ʼn Nobelprys!

Nou kan Emily England van daardie lastige kommerplooie oor haar borsgif ontslae raak – selfs by ʼn haarkapster wat haar ʼn klein inspuiting Botox so tussen ginnegapery en skerknippe kan gee.

Soos elke kugel weet is bors- en worsgif to die for darling.