Saturday, 31 December 2011

Dom was dalk nie so slim soos Dok Rosbif!


Alles oor rosbifs, frogs en sjampanje.
In Beeld 31 Desember 2011

In hierdie Feestyd van eet en drink is daar mense soos die Engelse en die Franse wat neerhalend na mekaar se eetgewoontes verwys.

Die friksie tussen les rosbifs (die Engelse) en die frogs (die Franse) sit maar vlak sedert 1066 toe ʼn Franse hertog, ene Guillaume die Baster (hy was ʼn onwettige kind) Engeland verower het en megalomanies homself as Willem die Veroweraar herdoop het.

In die aanloop na hierdie Kersfees was die frogs se President Sarkozy redelik vies omdat die Europese droom ernstig afgewater was toe die rosbifs se eerste minister Cameron die reddingspakket vir die Euro-geldeenheid geveto het.

Miskien is die strook water van die Engelse Kanaal simbolies van die afgewaterde rosbifs-frogs-verhouding. Dis nie so verregaande nie om te dink aan ʼn Engelse koerant met die voorblad: Digte mis in die Kanaal; Frankryk spoorloos weg.

Die idee van Engelse afwatering is egter niks nuuts nie. In die 1800’s het Ierland se Oscar Wilde reeds geskryf dat die Engelse die wonderbaarlike mag het om wyn in water te verander.

Hy was egter verkeerd. Nie omdat die Engelse in 2010 meer as vier miljoen bottels wyn geproduseer het nie. Nee, Wilde was verkeerd omdat ʼn Engelsman die eerste resep vir die wêreld se bekendste volwasse feesdrankie, vonkelwyn, bekend gestel het.

Baie van ons het grootgeword met die storie dat ʼn vrolike Franse monnik, Dom Perignon, sjampanje in die 1690’s uitgevind het. Hy het nie en, sacre blue, selfs die kerklike wynmaker se veronderstelde woorde “ek drink die sterre” was verdigsel want dit het eers 190 jaar later verskyn – in ʼn sjampanje-advertensie.

Ja nee, ek is jammer vir almal wat “monsieur Cameron et tous les anglais sont idiots” korrek kan uitspreek. ʼn Dokter van Gloucester, ene Christopher Merret, het die eerste amptelike resep vir sjampanje gepubliseer. In Desember 1662, ses jaar voor Dom Perignon se sandale ʼn wingerd betree het en meer as drie dekades voor daardie monnik se dopgeboorte, het Merret ʼn voorlegging van agt bladsye aan die Royal Society gemaak waarin hy sy proses bekend gestel het vir ʼn wyn wat “vonkel” met toegevoegde suiker.

Dr. Merret se volwasse bruisdrankie was gou-gou baie populêr in Engeland. Vandag glo baie wynkenners onder die rosbifs dat die frogs destyds gehoor het van Merret se vonkelwyn en spioene gestuur het wat die proses gekopieer het. In Engeland is daar heelwat rosbifs wat glo dat Dom Perignon se uitvinding ʼn coq-au-up en ʼn plagiaat du jour was.

Toe Merret se akademiese dokumentasie in 1998 in Christie’s se Wêreldensiklopedie van Sjampanje en Vonkelwyn geopenbaar is, het dit baie suur druiwe in Frankryk veroorsaak. Die koerant Le Figaro het dit afgemaak as ʼn poging om Dom Perignon te verbrand. Hoe kon Napoleon se volk van winkeliers sjampanje ontdek het? Mais non!

Die tweegeveg duur voort.

Die Franse voer nou aan dat vonkelwyn eintlik al in 1531 deur ander monnike in Limoux naby die Spaanse grens geskep is.

In ʼn hoender-eier-argument het Frankryk se Willem die Veroweraar egter miskien die Engelse wynbedryf begin. In 1066 het hy ʼn klomp Franse monnike saamgebring wat daartoe gelei het dat 42 Engelse wingerde in die Domesdayboek van 1085-6 gelys was.