Tuesday, 29 November 2011

Die vryheid van ʼn beter galgtou



In Beeld op Saterdag 26 November 2011

Sir Herbert Baker, die argitek wat onder meer die Uniegebou ontwerp het, moes sekerlik ’n turofiel gewees het.

Moet nou net nie die polisie ontbied nie, want hy het nie soos ’n popster met minderjarige groupies in ’n bus rondgetoer nie. Nee, ’n turofiel is ’n kaasliefhebber. Dit is afgelei van die Griekse tyros vir kaas en philos vir liefhebber.

Sien, vir my was dit duidelik dat ’n kaaswiggie sir Herbert geïnspireer het vir sy ontwerp van Suid-Afrika-huis in Londen toe ek my nou die dag bevind in so ’n kaaswigvertrek met ’n venster op die skerp punt wat op Trafalgar-plein uitkyk.

Reg voor die venster het dr. Zola Skweyiya, Suid-Afrika se top-diplomaat in Londen, ’n toespraak gelewer op ’n onthaal ter viering van die ereburgerskap (freedom) van die City of London wat aan hom toegeken is. Die City is die vierkante myl se finansiële stad in die groter Londen.

Op die linkerkantste muur van die kaaswig het adj.pres. Kgalema Motlanthe vanuit ’n geraamde foto geglimlag. Op die muur oorkant hom was daar ’n stroewer skildery van die eertydse premier Jan Smuts. Moderne politici is mos glimlaggende babasoeners op soek na stemme, terwyl vroeër jare se politici landsleiding bedryf het met die gravitas van lykbesorgers.

Skweyiya is nou deel van ’n uitgelese groep vereerde Suid-Afrikaners in Londen wat selfs Stramgesig Smuts insluit.

Dis vir my so ironies dat twee militêre leiers van die Boeremagte wat die vryheid van die twee Boererepublieke in die Anglo-Boereoorlog verloor het, later die ereburgerskap van die City of London ontvang het – Jan Smuts in 1917 en tien jaar voor hom, in 1907, genl. Louis Botha.

By daardie geleentheid het The New York Times Botha as ’n “most picturesque figure” beskryf en berig dat ’n Boerevlag, verower deur Londen se City Imperial Volunteers in Jacobsdal en wat toentertyd in die Londense Guildhall gehang het, tydelik verwyder is vir Botha se toekenning. Verleentheid en eer is twee woorde wat nie by mekaar pas nie. ’n Mens kan net wonder of Botha geweet het dat al 1400 soldate in Londen se City Imperial Volunteers ook so vereer is voordat hulle na die oorlog in Suid-Afrika gestuur is.

Oudpres. Nelson Mandela en Aaron Mokoena, Bafana Bafana-kaptein, het die eer ook ontvang.

Al daardie toekennings was eretoekennings op uitnodiging, wat baie spesiaal is, maar eintlik kan enige man of vrou ouer as 21 jaar aansoek doen om ereburgerskap.

Jy hoef ook nie ʼn burger van die Britse Gemenebes te wees nie.

Ereburgerskap van die City of London is ’n toekenning wat al 800 jaar oud is en van die tyd dateer toe daar adellikes, vrye burgers en lyfeienes (serfs) was. Lyfeienes mag nie ondernemings bedryf het nie en die eertydse ereburgerskap was ’n noodsaaklike vereiste vir enigiemand wat sake in die vierkante myl van die ou City wou doen.

Vandag gaan die toekenning steeds gepaard met legendes van eienaardige outydse regte, soos die reg om skape en beeste oor London Bridge aan te jaag en die luukse reg om nie met ’n gewone galgtou gehang te word nie. Hoewel dit nêrens geskryf is nie, glo die publiek dat jy met ereburgerskap die reg het op ’n galgtou van die beste sy, om ’n ontblote swaard in die publiek te dra en, as die polisie jou in ’n besope toestand in die openbaar kry, om in ’n taxi huis toe gestuur te word en nie in ’n sel gegooi te word nie.

Dís nie juis praktiese regte vir Skweyiya of Mandela nie, en ek dink nie iemand gaan Mokoena ’n sytou aanbied as Bafana Bafana verloor nie.

Skweyiya het sy eer ontvang van mnr. Michael Bear, 683ste Lord Mayor van Londen, wat toevallig aan die Universiteit van die Witwatersrand gestudeer het.

Bear is nou as Lord Mayor vervang maar hy kon darem aanspraak maak op ’n meer praktiese reg: Hy kon twee keer per jaar wildsvleis uit die koninklike parke ontvang.