Monday, 3 October 2011

Liefde (soos griep) kom terug

Gepubliseer in Beeld op Saterdag 1 Oktober 2011

Ek loods vandag ʼn petisie om gerekenariseerde PowerPoint-aanbiedings te verban. Dis vervelige tegnologie deurspek met hoofletters, uitroeptekens en herhaling.

In PowerPoint sou ʼn man sy liefde vir ʼn meisie as volg beskryf:
Deklarasie van Affektasie!
Na Beoordeling van alle Faktore van Amoreuse Karakteristieke is dit die Visie en Missie van die Alleeneienaar van hierdie Hart om ʼn Fisiese en Emosionele Koppeling te bewerkstellig met Susan!


Die Afrikaanse woord power pas goed by PowerPoint.

Maar wat is liefde?

Is dit, soos die Amerikaanse digter Robert Frost gesê het, die onweerstaanbare begeerte om onweerstaanbaar begeer te word? Of is dit soos Peter Ustinov gesê het ʼn tere blik wat ʼn gewoonte word?

Ek ken ʼn man hier in Engeland, doodgelukkig in ʼn huwelik wat hy as rotsvas aanvaar het, met ʼn diep liefde vir sy vrou oor die afgelope dertien jaar (oeps!). En daar, uit die bloute, los sy vrou hom omdat haar “omstandighede verander het” wat moontlik kode is vir ʼn skeeloog Kupido wat sy teiken gemis het maar ook enigiets anders kan beteken. Geen teer blik van haar meer nie; net ʼn onweerstaanbare begeerte om nie meer sy onweerstaanbare begeerte te wees nie. En miskien ʼn onverklaarde begeerte om iemand anders se onverklaarde begeerte te wees. Die arme kêrel staar nou na maandelange geheime wat vir hom gehou was. Om ʼn goeie geheime agent te wees moet mens ʼn goeie toneelspeler wees en ek kan lesers verseker die liefde van sy lewe kon ʼn Oscarnominasie met haar vertoning vanjaar verwerf het.

Nou ja, vir hierdie arme ou is liefde soos oorlog: Maklik om te begin, moeilik om te beëindig.

Sy is nie meer vir hom lief nie maar hy loop met sy hart op sy mou soos daardie verdwaalde Japannese soldate wat nooit besef het die Tweede Wêreldoorlog het geëindig nie en jare later in die oerwoud steeds rondgedwaal het.

Hoe kan mens die arme kêrel help?

My voorstel? Ek weet die wêreld het meer liefde as klubsubskripsies nodig maar kom ons stig Amoreuses Anoniem. In so ʼn klub kan elke Smartjan du Pressie sy hart kom oopmaak oor sy voortgesette liefdesverslawing en na Tania van der Traan se soortgelyke probleme kom luister. En kort voor lank sing hy en Tania “I will always love you” ewe harmonieus vals op ʼn karaoke-aand en word twee gebroke harte een. En dan kry hulle altwee hartkloppings en word kort van asem wat beteken dat hulle óf gesamentlike hartaanvalle ondervind óf verlief is. Ja nee, liefde is ʼn siekte soos griep: Dit kom gereeld terug. Gewoonlik nie-kwaadaardig.

Die Britse firma Grant Thornton doen ʼn jaarlike meningsopname van 100 leidende regsmense oor die oorsake van egskeidings. Vanjaar is die bevinding vir die eerste keer dat die belangrikste rede vir egskeidings verveeldheid is. Liefie jou gesig langs my in die bed is boring. Bye. Dis miskien ʼn beter opsie as Henry VIII wat so verveeld was met die gesigte van twee van sy vrouens dat hy hulle koppe laat afkap het. Ja nee Smartjan, kophou hoor.

Die pers hier in Engeland is vol selebriteite (sokkersterre, kunstenaars, meisies met opgepompte borste en gedefleerde breine) wat owerspel aanvaar en voortbou aan hulle huwelike maar sal skei oor eenvoudige alledaagse roetine. Dis die moderne huwelik: Mense sal eerder seksueel verraai word as om verveeld te wees. Dit het my laat wonder hoekom?

En toe vind ek die antwoord by Smartjan du Pressie se Oscarwennervrou. Sy het meer as 500 digitale sosiale netwerkvriende en werkskollegas op LinkedIn. ʼn Halwe duisend mense wat aan haar digitale lippe hang is mos baie meer opwindend as een vervelige ou wat nou al 13 jaar lank om haar draai en haar stilletjies op sy vervelige wyse aanbid.

Smartjan se vrou het hom ʼn virtuele PowerPointskyfie aangebied met die woorde: Eensydige Deklarasie van Disaffektasie! Dagsê Dommerik!