Saturday, 16 July 2011

Ons drink op die dooies!


Rubriek in Beeld, Saterdag 16 Julie 2011
Die mummy van Jeremy Bentham sit sedert 1850 in hierdie kabinet by University Colllege London. Die kop op die vloer is sy eie.


In Londen is daar geen hansworse by Piccadilly Circus nie, die Mall het nie ʼn enkele winkel en Covent Garden het nie plantaardige produkte nie behalwe miskien vir sekere skeeloogmense se rookgoed van twyfeldaggagtige herkoms.

Snaaks genoeg het Londen “groen” organiese energie gehad lank voor die krete van vandag se Sendelinge van Klimaatsverandering vir meer herwinbare energie. ʼn Rioolventilasielamp van 1895 staan nou nog by die artieste-ingang van die Savoyteater. Die lamp was lekker sosiaal want dit het gebrand met die digestiewe metaangas van die Savoyhotel se gaste en is eers in 1950 geblus toe ʼn onverskillige vragmotorbestuurder dit omgery het en dit na gewone krag omgeskakel is.

In ander ablusienuus het Londen ʼn Victoriaanse openbare toilet waar tot 100 mense op ʼn slag sosiaal kan rinkink. Ek praat nou nie van ʼn plek waar mans in ʼn ry teen ʼn muur staan asof hulle deur ʼn vuurpeleton in die rug geskiet gaan word nie. Nee, hierdie 150-jaar oue ondergrondse gemakshuis is deesdae ʼn piepklein nagklub genaamd Public Life. En dit laat my dink aan een van die vreemdste biere wat jy in Londen kan koop – Piddle in the Hole. Amper so snaaks soos Engeland se Cross Buttock Ale.

Van klein plekkies en boude gepraat, tussen 1571 en 1783 het duisende toeskouers op ʼn slag betaal om op stellasies te sit op ʼn kol regoorkant waar Londen se kleinste huisie vandag by Marble Arch staan. Die huis is drie voet ses duim wyd, deel van die Tyburn-klooster en gebou oorkant die Tyburnboom wat eintlik nie ʼn boom was nie maar ʼn galg. Die galg het soos ʼn boom vertoon waarop tot 24 mense in 1649 gelyktydig gehang was. Wakker lesers en B.Com-studente sal dus dadelik besef dat die tegniek van massaproduksie eeue voor Henry Ford deur die laksmanne van Tyburn ontwerp is. Henry Ford se massavervaardigde model-T was vernoem na die 20ste letter van die alfabet maar kon net sowel die model-Tyburn gewees het.

Van wiele gepraat, as jy ʼn outydse tiekiewawielfiets besit kan jy by die Veteraanfietsklub aansluit maar as jy ʼn lid is van Londen se Handle Bar Club het dit niks met stuurhandvatsels te doen het nie want dis sedert 1947 ʼn klub vir manne met weglêsnorre. Dit was so verblydend om op hulle webwerf by handlebarclub.co.uk te lees hoe goed klublede gepresteer het tydens vanjaar se Wêreldkampioenskap vir Baarde en Snorre in Noorweë. Dis so ʼn wonderlike en produktiewe tydverdryf om jou hare te groei.

Vir my is die langdurigste fisiese snaaksigheid egter te sien by die University College London wat al 21 Nobelpryswenners opgelewer het. Daar in ʼn houtkabinet by ʼn trapportaal in UCL se hoofgebou sit die gepreserveerde skelet van ene Jeremy Bentham, ʼn radikale filosoof van weleer. Hy sit al daar sedert 1850, aangetrek in sy eie klere met ʼn perfekte wasgietsel van sy kop op sy skelet, grysblou oë wat na die plafon staar (mens dink mos by ʼn universiteit), lang hare, ʼn breërandhoed en kierie in sy linkerhand. Ek weet nie van enige ander lyk ter wêreld wat so voortleef nie. Behalwe miskien noord van die Limpopo waar ʼn sekere staatsleier, wat sy vervaldatum oorskry het, Jeremy Bentham besonder goed naboots.

Al ooit die brandende begeerte gehad om middagete op ʼn grafsteen te nuttig?

Wel, besoek dan die 18de eeuse grafkelder van St. Martin in the Fields, die kerk op Trafalgar-plein reg langs Suid-Afrika-huis.

Ek en Niall Wilkins, een van ons diplomate, het onlangs daar ʼn wonderlike ete gehad in die Café in the Crypt met tafels en stoele geplaas oor ʼn vloer wat met gegraveerde grafstene geplavei is.

Ek waardeer die dooies se kulinêre bydrae maar ek verkies die lewe. Ek wil eet en drink. Daarom het ek maar ʼn goeie bottel rooiwyn in die grafkelder bestel want ek wou nie eers doodnugter wees nie.