Monday, 20 June 2011

Danksy Tommy en Hitler ... het ons vandag wondere soos CowToss en iNap@Work


Gepubliseer in Beeld op Saterdag 18 Junie 2011


Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Brittanje by Bletchley Park die Duitse Enigma- en Lorenz-kodes ontsyfer. Hulle belangrikste dekoderingswapen was die wêreld se eerste rekenaar — Colossus.

Daardie rekenaar van 1944 was met telefoontoerusting deur Tommy Flowers, ʼn Londense telefooningenieur, gebou.

So het die telefoon ʼn rekenaar geword. Nou word die rekenaar ʼn selfoon.

Colossus kon Hitler se geheime Lorenz-kommunikasie met sy generaals vinniger as die braaityd van ʼn wienerwurst ontsyfer.

Die nuwe rekenaarfone onthul ook geheime soos so wonderlik geïllustreer met ʼn nuwe worsvariasie, Weinerwors.

Anthony Weiner, ʼn Amerikaanse kongreslid, het die belangrikheid van stokperdjies en vry tyd vir politici onlangs effens oorbeklemtoon toe hy met sy selfoon sy eie uitgelate Weinerworsiefoto aan ʼn jong dame geTwitter het en daarmee ʼn legende in sy eie braaityd geword het. ʼn Verdere illustrasie was dié van die 25-jarige Engelse sokkerspeler, Wayne Rooney, wat verlede week die wêreld ʼn beter plek gemaak het met ʼn Twitterfoto en boodskap van sy haaroorplanting. ʼn Mens kan nie die aardskuddende belangrikheid van meneer Rooney se haarskapades vir sy byna 900 000 volgelinge onderskat nie. Ek raak self deesdae effens dun in die boog tussen my ore en is ekstaties oor die nuus dat ek met net R350 000 soos meneer Rooney kan lyk. Sonder sproete, hopelik. Die mag van Lady Gaga se rekenaarselfoon is – wel, soos Tommy Flowers miskien sou sê – kolossaal. Haar 11 miljoen digitale boesemvriende volg haar daagliks om te sien watter telefoonhoed by watter rouvleisrok pas. Dis so mooi dat sy telefone en rekenaars weer nader aan mekaar bring.

Ja, selfone as rekenaars verrig briljante take.

Jy kan sagteware aflaai sodat jy ʼn knoppie op jou selfoon kan druk en sien hoe lank jy kan uithou om — um — die knoppie te druk. Dis nogal handig om Amerikaanse kongreslede se vingers van gevaarlike versendingsknoppies weg te hou. Of jy kan virtuele bier op jou selfoon drink. Kantel jou selfoon op jou mond asof jy daaruit drink en die bier kantel saam. En, nadat die bierbeeld in jou selfoon uitgeloop het, breek die selfoon ook sommer namens jou wind. Uitmuntende tegnologie. Behalwe as jy dors is. Of ʼn lewe het. Hei, wil jy ʼn pad tussen tieners na die kafee oopveg? Met Annoy-a-Teen stuur jou selfoon ʼn hoë-frekwensiesein uit wat net tieners kan hoor en hulle so irriteer dat hulle vlug. Wil jy egter regtig sosiaal onaanvaarbaar wees? iFart-sagteware op jou foon het waardevolle sub-produkte soos Forrest Dump, Harry Pooter en BraveFart. Dit maak mens trots om digitaal bedrewe te wees.

Dan is daar die skitterende waarde van iGlowStick wat jou selfoon omskep in ʼn — um — gloeistok wat jy waarskynlik by ʼn rockfees in die lug kan hou om te wys dat jy – um – ʼn gloeistokkie het. En SimStapler omskep jou selfoon in ʼn beeld van ʼn kramdrukker. Jy druk jou vinger daarop en die krambeeld kliek. Wie het hierdie verdienstelike idee uitgedink? Dis amper so tegnologies toonaangewend soos CowToss waar jy koeie in die lug op jou selfoon gooi vir punte. Waarskynlik nie ʼn topverkoper in Indië nie. Wil jy op kantoor indut? Met iNap@Work maak jou selfoon kantoorklanke sodat jou kollegas dink jy werk wanneer jy eintlik slaap.

Jou foon kan nou vir jou ʼn “kalm” kers gee wat — um — kalm brand. Vir diegene wat werk vir hulle hande soek is daar sagteware vir ʼn kers wat jy aansteek én verdoof. Fake Smoker gee jou ʼn brandende sigaarbeeld sodat jy jou foon teen jou lippe kan hou en Winston Churchill naboots. Met FatBurner plaas jy die foon op jy boep, die foon vibreer en — kros-my-hart-en-houp-toe-daai — jy verloor gewig.

Jy kan nie bloed uit ʼn klip tap nie maar met Fingercut kan jy jou vinger op ʼn sirkelsaagbeeld druk en spuitende virtuele bloed ervaar.

Dis so wonderlik dat Hitler se onverantwoordelikheid en Tommy Flowers se Colossus gelei het na hierdie onskatbare juwele van die digitale foonrewolusie.