Monday, 23 May 2011

’n Vlek op die Britse psige. Die liggaam is ʼn tempel – vir graffiti


In Beeld op Saterdag 21 Mei 2011

Wat is mooier as ʼn TV-advertensie vir seep waarin ʼn pragtige, halfkaal meisie haar onbevlekte liggaam sensueel met skuim bestreel? Dis mos skoonheid op twee vlakke want sy is mooi en daardie seep werk so goed dat daar nie ʼn merkie op haar vel is nie.

In teenstelling daarmee is spatare lelik. Daar is nie ʼn meisie ter wêreld wat haar beursie sal oopmaak om te betaal vir ʼn fraai spataartjie op haar enkel nie. Ek twyfel ook oor die mate van sukses wat ʼn man kan behaal as hy by ʼn meisie aanlê met die woorde: “Haai jy het darem ʼn mooi spataartjie. Waar het jy dit gekry?”

Nee wat, spatare is nie goeie besigheid nie. Behalwe vir sekere dokters. Sover ek weet is daar nêrens ter wêreld ʼn jaarlikse Spataarkonvensie nie. Daar is egter wel ʼn jaarlikse Internasionale Tattoeëerkonvensie in Londen (met 20 000 besoekers) en Las Vegas se Tattoo Expo (40 000) want baie mense is mal — miskien op twee vlakke — om getatoeëer te word.

Ek verstaan die Higgs-Boson oerknalteorie van hoe vaste materie uit oerknalsop kon ontstaan (dink aan ʼn halfkaal meisie met ʼn onbevlekte vel en seep in haar hand wat ʼn vertrek instap en oombliklik ʼn saambondeling van mans om haar veroorsaak) maar tatoeëering slaan my disnis. Hoekom wil enige rasionele mens soos ʼn gefrankeerde koevert lyk?

Ek het êrens gehoor dat daar net twee groepe mense in die wêreld is: mense met tatoeëermerke en mense wat bang is vir mense met tatoeëermerke. Dis miskien hoekom ek in my jeug tatoeëermerke met misdadigers vereenselwig het of, ten beste, matrose. Oukei, koning Edward VII (Victoria se seun) en sý seun George V (die hakkelaar se pa) het tatoeëermerke gehad maar dan het hulle dit gekry gedurende hulle dienstyd in die vloot. En Lord Roberts van die Anglo-Boere-oorlog, self getatoeëer, het aanbeveel dat elke Britse offisier met sy regimentskild getatoeëer moes word vir esprit de corps en (sê dit saggies) nadoodse uitkenning op die slagveld.

Volgens die Britse koerant, die Sun, het ongeveer 20 miljoen Britte deesdae tatoeëermerke. Dis ʼn derde van die bevolking. Die syfer klink effens hoog vir my want die Britse vloot neig deesdae na die grootte van die vloot van Uganda en ʼn groot deel van die Britse misdagers het nou huise in Spanje en Portugal. So kom ons sê dat ʼn kwart van die Britse bevolking nou persoonlike graffiti vertoon – insluitende onse Kevin Pietersen met die drie leeus van Engelse krieket en sy spelernommer 625 op sy arm. (ʼn Nommer? Nee asseblief. Nie vir my nie.) David Beckham is nog ʼn getatoeëerde Brit met só ʼn verkeersopeenhoping van “liggaamskuns” op sy lyf dat hy ʼn prys op ʼn Hell’s Angels-saamtrek kan wen. En selfs Samantha Cameron, die vrou van die Britse eerste minister, het ʼn dolfyntjie op haar een enkel.

Die sokkerspeler Wayne Rooney som dit besonders goed op met sy tatoeëermerk “Just Enough Education To Perform.” Dit lyk ook asof hy net genoeg grammatika het want Elke Woord Begin Met ʼn Hoofletter.

In Brittanje betaal die Departement van Welsyn werklose mense solank hulle werk soek maar Britse werkgewers weier al hoe meer om mense met tatoeëermerke in diens te neem. Hoe mense op welsyn geld vir tattoeëring kan hê gaan my te bowe. Nietemin, werksoekers kan nou gratis by die staatsbefondse National Health Service hulle tatoeëermerke laat verwyder. So die staat dra beide die koste van die tattoeëring en die koste van die verwydering.

Dis so onverstaanbaar soos die drang om jouself met vaste vlekke te beverf.

Die ergste is dat tatoeëermerke regtig swak verouder. Dis soos die storie van die man wat in sy jeug “Disselboom van Potchefstroom” op een van sy meer geliefde liggaamsdele laat tattoeëer het maar op sy oudag so oud en verrimpel geword het dat die merk net “oom” gesê het ...