Saturday, 16 April 2011

Prins William, Kate en die Marathon - Britannia maak die reëls


Een van die wêreld se beroemdste seremoniële roetes lê soos ʼn breë rooitapyt tussen Buckingham-paleis en Trafalgar-plein — die rooi teerpad genaamd The Mall.

Ek het verlede jaar tydens president Zuma se Britse staatsbesoek vir ʼn koerant (nie Beeld nie) ʼn berig geskryf dat die Mall met talle Suid-Afrikaanse vlae getooi was vir sy amptelike motorrit met koningin Elizabeth II. ʼn Oorywerige redaksielid het my storie egter geredigeer en die gedrukte berig verander na vlae “by ʼn winkelsentrum oorkant Buckingham-paleis”. Oeps.

Nou ja, daardie “winkelsentrum” gaan more baie besig wees wanneer meer as 36 000 deelnemers die eindpunt van die 31ste Londen-marathon op die rooi geteerde Mall bereik.

Die Londen-marathon is een van die top vyf marathons ter wêreld en die enigste een wat oor twee halfronde strek want dit begin in die Oostelike Halfrond, kruis die nul meridiaan by Greenwich, en eindig in die Westelike Halfrond. Te ver vir my, dankie.

Dit hou ook die Guinness-wêreldrekord as die grootste jaarlikse fondsinsamelingsgebeurtenis, R515 miljoen in 2009. Meer as driekwart van die hardlopers, lopers en rolstoelatlete doen dit ten bate van liefdadigheid en trek aan soos renosters, kamele, strokiesprentkarakters, robotte, hoenders en feetjies. Daar was ook ʼn Elvis, ʼn telefoon, ʼn man in ʼn babadoek, ʼn Darth Vader, ʼn sonneblom en ʼn gemmerkoekie in 2010.

Prinses Beatrice was verlede jaar in ʼn menslike rusper toe sy, gebind met ʼn tou aan 33 ander mense, oor die wenstreep gedraf het vir nog ʼn Guinness-wêreldrekord – die meeste gekoppelde drawwers ooit in ʼn marathon.

Ek glo ek kwalifiseer vir die Guinness-wêreldrekord vir die persoon met die minste belangstelling in Kate Middleton se trourok en prins William se besluit om nie ʼn ring te dra nie op hul troudag vandeesmaand maar, as die tweetjies more by sy ouma sou kuier, sal hulle die Londen-marathon se wenstreep van die vensters van Buckingham-paleis kan sien.

En dis nou regtig ʼn interessante toeval want dit het ʼn besondere betekenis in die antwoord op ʼn atletiekvraag.

Hoekom is die marathon altyd presies 26 myl en 385 jaart (42,195 kilometer) lank? Was dit die afstand wat die mitologiese boodskapper Pheidippides tussen die slagveld van Marathon en Athene gehardloop het?

Nee, die afstand is vir die gemak van die Britse koninklike familie geskep.

In die eerste drie moderne Olimpiese Spele het die marathon elke keer gevarieer met distansies van so om en by 25 myl (40-41 kilometer).

In 1908 het Londen die Olimpiese Spele aangebied en wat gebeur? Rule Britannia, Britannia Makes the Rules!Die organiseerders het die beginpunt van die marathon buite ʼn venster van Windsor-kasteel opgestel waar die helfte van die koninklikes dit kon bekyk en die wenstreep opgestel reg voor die koninklike losie by White City-stadion waar die ander helfte van die koninklikes dit kon bekyk. Die afstand tussen koninklike venster en koninklike losie was presies 26 myl en 385 jaart en dit het die wêreldwye standaardlengte geword wat vandag nog geld.

Dis vir my nogal snaaks dat more se Londen-marathon weer onder die vensters van die koninklikes plaasvind maar nog snaakser dat, oor minder as twee weke, ʼn ander marathon daar op die Mall gaan begin – ʼn koninklike marathon.

Die Amerikaanse evangelis James Dobson was blykbaar die eerste een wat gesê het dat die huwelik ʼn marathon is, nie ʼn naelloop nie, alhoewel Colin Firth, die akteur in The King’s Speech, nou ook onlangs (sonder om te hakkel) gesê het sý huwelik is ʼn marathon.

Op die 29ste van vandeesmaand sal prins William Wales en Kate Middleton hul eie koninklike marathon begin wanneer sy op die rooi seremoniële Mall-teerpad na haar troue sal ry en daarna met William heelpad op die Mall na Buckingham-paleis sal terugkeer.

Televisiekykers wêreldwyd sal daardie dag baie vlae langs die Mall sien. Ek verwag ook kykers sal baie min vlae sal sien wat ʼn Paas-uitverkoping by die winkelsentrum adverteer!