Tuesday, 22 March 2011

ʼn Bier op die dodetrein!




In Beeld op 19 Maart 2011

As uitruilstudent in Wes-Duitsland tydens ʼn griepepidemie het my ma ʼn brief aan my geskryf dat sy gehoor het dat die winter só straf was dat mankoliekes wat hulle laaste snuif genies het nie eers in die bevrore aarde begrawe kon word nie.

Dit was kraakvars nuus vir my en 60 miljoen Wes-Duitsers maar sterk motivering om ʼn loopneus te vermy en nie té betrokke met Chopin se Dodemars te raak nie.

Daar was egter ʼn tyd toe Londenaars werklik moeite gehad het om mense te begrawe. Tussen 1815 en 1842 het die stad se bevolking van 1 miljoen na 2,5 miljoen opgeskiet terwyl die 200 begraafplase nie uitgebrei het nie. Volgens die historikus Catharine Arnold was byna die helfte van die begrafnisse vir kinders jonger as 10 en was die lewensverwagting van ʼn professionele man 30 jaar en dié van ʼn arbeider 17. Lyke is dikwels opgegrawe, verbrand of sommer weggegooi om plek te maak vir nuwe oorledenes in al hoe vlakker grafte. In die Enonkapel is 12 000 opgestapelde liggame in ʼn kelder van 59 by 12 voet gevind.

Die satiriese tydskrif Punch se uitspraak was: “A London churchyard is very like a London omnibus. It can be made to carry any number.”

Lekkende ontbindingsafval in die waterstelsel het daartoe bygedra dat 15 000 mense in 1848-'49 in Londen aan cholera gesterf het.

Die oplossing was eienaardig.

ʼn Parlementswet van 1852 het The London Necropolis and National Mausoleum Company opgerig met ʼn privaatspoorlyn en -stasies gekoppel aan Brookwood-nekropolis, ʼn begraafplaas van 2 000 akker (meer as 800 hektaar) 25 myl weg.

ʼn Nekropolis is ʼn stad van die dooies. Brookwood het Londen se alternatiewe stad van die dooies geword – baie lank die grootste begraafplaas ter wêreld.

Daar was ses bedieningskategorieë vir lewendige en dooie kliënte: eerste-, tweede- en derdeklaskaartjies versprei oor twee groepe – lidmate van die Church of England en “nonkonformiste", elk met hulle eie stasie in Brookwood. Die klasse en groepe is ingepas in aparte wagkamers, lykshuise, spoorwaens en onthaalfasiliteite.

Stemmigheid skep egter soms onsinnigheid.

Kort voor lank was dit in die volksmond die “dead meat train” en die “stiff’s express” en, by nabetragting, ook ʼn “loophole choo-choo” want kaartjiepryse was vasgepen onder prysbeheer ingevolge die wet van 1852.

Teen 1902 was ʼn nekropoliskaartjie tweede-derde van die prys van ʼn gewone passasierstreinkaartjie van Londen na Brookwood. West Hill-gholfklub het langs Brookwood gelê en gholfspelers uit Londen het die gaping gevat, aangetrek soos rouklaers en die goedkoper nekropolistrein gery. John Clarke sê in sy boek oor die onderwerp dat die gholfspelers se voetpad steeds vandag van die begrafnis-stasie na die gholfklub gesien kan word.

In 1918 het die spoormaatskappy tweedeklaskaartjies afgeskaf maar vergeet om dit ook vir lyke af te skaf. Vir die volgende 23 jaar is dooies drie reisklasse aangebied en lewendiges net twee.

By Brookwood-begraafplaas se twee stasies was daar kroeë met die kennisgewing: “Spirits served here.” Die gees waarin dit geskryf was moes sekerlik die permanente inwoners van Brookwood se harte verbly het.

Roubeklaers het soms die doodstrein letterlik opgeneem, hulle half doodgedrink, en al die pad terug na Londen gedans. In 1867, na ʼn likiede middagete in die begraafplaaskroeg, was ʼn nekropolistreindrywer te inkapabel om die trein na Londen terug te neem. Daarna het die maatskappy broodjies en ʼn pint bier aan treindrywers verskaf om hulle uit die twee begraafplaaskroeë te hou.

Tommy Treindrywer, drink bier want jy moet die publiek veilig rondkarwei!

Soos die Britse komediant Bob Monkhouse gesê het: “Ek wil eendag soos my pa sterf, vreedsaam in sy slaap, nie gillend en verskrik soos sy passasiers nie.”

Op 16 April 1941 het Duitse bomme die Necropolis-stasie in Londen uitgewis. Daarmee het die besigheid gesterf. Die vooraansig van die terminus bestaan steeds vandag – sonder die voorteken “Necropolis”.

Brookwood is steeds vandag die grootste begraafplaas in die VK. Prinses Diana se vriend Dodi Al-Fayed was daar begrawe – tot hy later na familie-eiendom moes oortrek.