Monday, 21 February 2011

Oppas, sake-Moebaraks

Rubriek in Beeld Saterdag 19 Februarie 2011

Die interessantste plekke op aarde vervaag na vliegtuigetes op Valium vergeleke met sekere eksotiese plekke.

In Taiwan het ek gesien hoe ʼn lewendige slang oopgeslag word voor ʼn klomp mans en hoe elkeen met ʼn glinstering in die oog ʼn stywe dop vars slangbloed koop en as ʼn ereksiemiddel opslobber. In Texas het ek ratelslang geëet, gelukkig met geen Taiwannese newe-effek vir my nie. Tydens Ronald Reagan se presidentskap was ek die gas van een van sy adviseurs in die Withuis se intieme eetsaaltjie en, in 1994, het ek in Kaïro tydens ʼn konferensie Egiptiese rooiwyn gedrink — regte Cabernet Revenge de Ramses II.

Kaïro is besonders. Dis ʼn plek waar ek vanuit ʼn toiletvenster ʼn herder met ʼn kudde boerbokke gesien het — op die derde vloer van die gebou langsaan.

In Kaïro het ek ook op 27 April 1994, ʼn uur voor Suid-Afrika se stembusse geopen het, by die Suid-Afrikaanse ambassade in die Algemene Verkiesing gestem. In skrille kontras met die destydse versoeningspresident Mandela het ek in daardie week tien rye weg gesit van ʼn minder versoenende, diktatoriale president wat my telekommunikasiekonferensie met ʼn onverstaanbare toespraak in Arabies geopen het — president Hosni Moebarak, toe reeds 13 jaar Egipte se politieke eenmanorkes.

En nou, 17 jaar later, het die Egiptiese publiek die Moebarak eenmanorkes se instrumente gebreek en hom weggejaag. Mummie mia!

Hierdie massa-opstand was eintlik die tweede groot Egiptiese rebellie in die afgelope eeu.

Brittanje het Egipte eens op ʼn tyd beheer totdat ʼn volksopstand tussen Maart en Julie 1919, met 800 sterftes en 1600 gewondes, die Britte weggejaag het en Egipte onafhanklikheid gegee het.

In 1919 het die Egiptenare persoonlik gekommunikeer.

Die opstand van 2011 was egter anders want dit het ontstaan in ʼn elektroniese sosiale netwerk, wat president Moebarak nie verstaan het nie. Hy het bly glo dat sy suurgesig televisie-optredes 80 miljoen beledigers in 80 miljoen bewonderaars kon verander.

Wat was die les van Moebarak se val?

Ek dink sentrale kommunikasiebeheer (televisie, radio en koerante) is katswink geslaan deur ʼn nuwe sosiale netwerk van mobiele digitale apparate.

Die vonk van die protes het begin by die Facebookbladsy van mnr. Wael Ghonim, Google se bemarkingsbestuurder vir die Midde-Ooste en Afrika, waarvoor hy elf dae lank aangehou was.

Tydens sy aanhouding het die Egiptiese revolusie ʼn e-revolusie geword met ʼn tsoenami op Facebook, Twitter, blogs en YouTube. Toe die regering die Internet beperk het mense dit omseil met Google se “speak2tweet” waar hulle na vastelyntelefone kon bel en boodskappe los wat met spraakherkenning in twiete omskep is.

Ja, die twiet is nou die moderne pen.

En ek dink dis nie net in die politiek waar die twiet magtiger is as die swaard nie. Dis ook in die sakewêreld waar ek ʼn e-revolusie sien.

Die argaïese swaaistoelsoldaat met sy rekenaar onder die IT-departement se beheer is besig om ʼn mobiele guerrillavegter te word met sy persoonlike sake-AK-47 wat hy tuis in ʼn laai kan hou.

Londen se treine sit deesdae volgepak met mense wat korporatiewe werk op hulle eie persoonlike mobiele digitale apparate doen. Hulle hanteer werkseposse op hulle persoonlike slimfone, iPads en ander rekenaartablette. Hulle skryf en doen werksberekenings op hulle eie skootrekenaars wat ingeskakel is op hulle persoonlike selfoon-netwerke.

Hoekom?

Mense wil dieselfde apparate in beide hulle persoonlike en werkslewe gebruik. In die ou dae het jy ʼn leêr huis toe geneem om te werk; nou is die leêr sommer op jou selfoon.

In hierdie e-revolusie van twiete, Facebooks en LinkedIns raak die sake- en sosiale netwerke alles een.

Die netwerkmaatskappy Cisco het in ʼn wêreldwye 2010-peiling van IT-bestuurders gevind dat 41 % bevestig het dat werknemers gereeld met hulle eie toerusting toegang tot korporatiewe netwerke het.

Topbestuur se uitdaging gaan wees hoe om die nuwe mobiele, denkende werknemer ten beste te benut en terselfdertyd maatskappy- en kliënte sekuriteit te verseker.

Dit kan ʼn effense bron van hoofbrekens wees, maar sakeleiers wat gaan vasklou aan die beginsels van die Mubarak- bestuurskool gaan ʼn baie ernstiger skeelhoofpyn kry as hulle nie aanpas nie.