Thursday, 20 January 2011

Dis koud want dis warm!


Gepubliseer in Beeld 15 Januarie 2011

Baltasar Gracián, ʼn Spaanse filosoof, het 360 jaar gelede geskryf dat dit beter is om met die res van die wêreld mal te wees as wys op jou eie.

Ek het vandeesweek, byvoorbeeld, in ʼn mal streek een supermark bo ʼn ander verkies nie virgehalte of prys nie, maar vir beter toiletgeriewe. Nood baar soms my dringendste emosionele besluite. Ek het ook my nuutste selfoon gekies sonder om aan oproepe en teks te dink. Dis waarskynlik effens mal maar dis ʼn briljante foon waarmee ek op enige plek in die wêreld na Suid-Afrikaanse radiostasies kan luister.

Ek mik ook dikwels die foon na die radio om onbekende musiek te identifiseer en wanneer die familie kom kuier word dit ʼn babamonitor langs ʼn kot.

Baie mense is mal genoeg om hulle lewers te lank met te veel bottels gelukkige sap te karnuffel.

Dis hoe die Skotse rockmusikant Gerry Rafferty voorverlede week tragies vroeg gesterf het. Ek moet eintlik my mond hou want my lewer protesteer ook gereeld oor my irrasionele band met sekere volwasse bruisdrankies.

Een ding waaroor ek egter regtig mal was in my studentejare was Rafferty se musiek, veral een van sy liedjies met die onvergeetlike woorde: “Clowns to the left of me, jokers to the right, here I am, stuck in the middle with you”.

Dis ʼn interessante gedagte, veral as ek terugdink aan my ervaring met die Britse weer oor die afgelope paar weke.

In hierdie chaotiese winter voel ek beslis dat ek in die middel van hansworse en grapmakers is.

Ek was in Desember, net soos verlede winter, weer weke lank tuis onder veertig cm sneeu vasgepen. Die graafskap waar ek woon, Buckinghamshire, het verander in Buckingsiberia. Heathrow het sneeuberoerte gehad en my vlug na die VSA was gekanselleer. Ek kon eers ses dae later wegkom en het toe in ʼn sneeubui in Atlanta geland omdat Amerika byna rekord lae temperature ondervind het.

Nursie, bring daai straitjacket asseblief want daar is mal besluitnemers in die Britse regering.

Volgens amptelike statistiek was verlede maand die tweede koudste Britse Desember sedert 1659 toe Jan van Riebeeck nog sy hoed in die Suidooster moes vashou. Boonop was 2010 die koudste jaar in Brittanje sedert 1910.

Desnieteenstaande hou die Britse regering voet by stuk dat aardverhitting steeds beveg moet word met miljarde ponde in subsidies vir duisende windturbines – aantreklike roesmonumente so hoog soos Sint Paul’s-katedraal wat met ander krag aangevul moet word wanneer die wind nie waai nie. ʼn Geheimpie: Die enigste plekke waar jy gereelde wind in Brittanje vind, is in babas.

Nursie bring sommer ook die kalmeerpille.

Tot dusver is ons vertel dat rekenaarmodelle wys dat warm winters deur aardverhitting veroorsaak word, maar nou word ons vertel dat die rekord Europese koue van 2010 ook deur aardverhitting veroorsaak is.

Hoe? Wel, die yslaag op die Noordpool smelt en druk die koue suid. So, dis koud want dis warm.

Dis ʼn meteorologiese wen-wenverklaring met logika wat ek verloor-verloor.
Nogtans dink ek julle daar aan die suidpunt van Afrika moet luister na dr. Hans Wors en prof G.R Apmaker se meteorologiese verklarings, want die gesmelte ys van Antarktika het julle ooglopend ʼn somer gegee waarin, soos iemand dit aan my gestel het, selfs die water op haar knie begin kook het. Nog erger, nou gaan daardie gesmelte Antarktiese ys ernstige koue van die suide af opdruk en Durban die kans gee om die volgende Olimpiese Winterspele aan te bied.

Julle kan nou maar al begin om die Moses Mabhida-stadion vir sierskaats voor te berei en ʼn bobsleeroete in die Vallei van ʼn Duisend Heuwels te bou.

Luister na Baltasar Gracián en val in met die res van die wêreld want die aardverhitte koue gaan proteas in Suid-Afrika uitwis en die nasionale SA-span vir die Durbanse Winterspele sal derhalwe die Edelweisse moet word.