Sunday, 19 December 2010

Gepoets tot heldestatus


Standbeeld van Richard die Leeuehart voor Westminster-paleis, die Britse parlementshuis.

In Beeld, Saterdag 18 Desember 2010

Wat is ʼn parlement anders as die verkose versameling van die land se grootste grootbekke? En hulle raak régtig raserig wanneer hulle sosiaal verkeer.

Ek was nou die aand ʼn genooide gas tussen hulle in die Strangers’ Bar, ʼn kroeg in die Britse parlementshuis, en ek kan nou verifieer dat die desibels daar net effens hoër was as wanneer jy jou kop in die hoofluidspreker van ʼn Rolling Stones-konsert druk.

Videomonitors in die Vreemdelingekroeg het die verloop van ʼn debat getoon totdat ʼn klok gelui het waarop die lawaaimakers skielik uitgeloop het om te gaan stem en ons buitestaanders soos stom soutpilare agtergelaat het.

Daarna is ek uitgenooi vir aandete in die Vreemdelinge Eetsaal. Oudpremier Tony Blair se voormalige adjunk, mnr. John Prescott, het by die tafel langs my gesit, ʼn man met só ʼn verminkte sinsbou as hy praat dat die skrywer Simon Hoggart gesê het dis asof iemand ʼn deksel op sy kop oopklap en ʼn eierklitser daarin druk. Miskien effens wreed maar dit was ʼn besondere aand in ʼn besondere gebou en dit het my laat wonder wat jy sou kry as jy die gebou se kop oopklap.

Die antwoord? Die Britse parlementshuis, oftewel Westminster-paleis, en die Disney-kasteel het ʼn paar dinge met mekaar gemeen – elemente van fiksie.

Ek het dit eintlik reeds in Maart vanjaar besef toe ek na president Zuma geluister het in Westminster-paleis se Aantrek-kamer (Robing Room) waar die koningin in haar seremoniële ampsgewaad en Imperiale Kroon vir die opening van die parlement getooi word.

Dis ʼn pragtige saal met ʼn lappieskombers van muurskilderye oor die heldedade van koning Arthur en sy Ridders van die Ronde Tafel – karakters wat so fiksioneel is soos Trompie en die Boksombende. Die Robing Room se vuurherd het darem ʼn meer feitelike standbeeld van die geveg tussen Engeland se beskermheilige Sint George en die Draak. Dis nou nie in die Hansard nie maar die feite van die geval was dat ʼn dierasie ʼn dorp geterroriseer het, die mense ʼn prinses as offerande aan die draak aangebied het, Sint George dit gehoor het, te perd oorgery het, die draak doodgesteek het en die prinses gered het.

Op pad na die Vreemdelingekroeg stap ek verby ʼn standbeeld op die parlementsterrein van koning Richard die Leeuehart, uitgebeeld as ʼn heroïese oorwinnaar op ʼn perd met sy swaard omhoog.

ʼn Demokratiese held? Nee, net lekker fiksie want hy was ongelukkig een van die swakste Engelse konings ooit, het net Frans gepraat en net in twee dinge belang gestel: moorddadige kruistogte teen Moslems en mooi mans. Hy het sy eie pa geweldadig verslaan om koning te word vir tien jaar waarvan hy net ʼn paar maande in Engeland deurgebring het. Die Hertog van Oostenryk het hierdie afwesige heerser gevang en aan Keiser Hendrik VI verkoop wat ʼn losprys op sy kop geplaas het. Dit het ʼn kwart van die jaarlikse inkomste van elke man in Engeland gevat om die losprys te betaal en een van Engeland se grootste belastingfiasko’s te skep – allermins ʼn held met sy mense se belange op sy hart.

Ek betree Westminster-paleis by die Cromwell-ingang waar ʼn standbeeld van Oliver Cromwell staan – ʼn republikein miskien maar geen demokraat nie. Hierdie militêre diktator het soos ʼn Protestantse Osama Bin Laden duisende Ierse burgerlikes 350 jaar gelede vermoor net omdat hulle Katoliek was en daarmee Brittanje se Ierse probleem geskep wat Churchill later beskryf het as “die vloek van Cromwell”.

Cromwell en Richard die Leeuehart is beeldgepoets tot fiksieperfeksie. Hulle standbeelde staan in die sig van twee standbeelde oorkant die straat van beter manne wat van oorlog na versoening beweeg het – Jan Smuts wat ná die Anglo-Boere-oorlog versoening met die Engelse bewerkstellig het en Nelson Mandela wat rasseversoening gebring het.

Húlle is die ware demokratiese staatsmanne eerder as suurknol Cromwell wat selfs Kersfees baie jare lank verban het.

Dis ʼn maklike keuse tussen Cromwell en Kersfees.