Monday, 22 November 2010

Die Sarasene doen dit weer



Op een van die min oop stukkies grond in Londen wat nog nie deur argitekte beetgekry is nie, skrum die spanne van die Amerikaanse Eagles (in wit) teen die Londense klubspan Saracens. Foto: Matthew Impey
Gepubliseer in Rapport Sondag 21 November 2010

Argitekte is mense wat nie van velde hou nie, meen die Britse komediant Mike Harding.

Dit was daarom vir my nogal aangenaam om verlede week ’n groen veld in ’n betonoerwoud te ontdek wat onaangetas is deur enige argitek se tekenpen – ’n veld in die middel van die City of London, die finansiële en historiese vierkante myl in die kern van Londen.

Op 9 November het ’n eg Engelse, eksentriese geleentheid met Suid-Afrikaanse verbintenisse op daardie groen kol plaasgevind wat ek gelukkig genoeg was om by te woon – nadat ek ’n komplimentêre £50-kaartjie vir ’n rugbywedstryd op dié veld ontvang het.

Ek het nie juis die vrygewigheid verdien nie, maar ek loop nou al ses weke met my linkervoet in gips en ek het dit ook nie verdien nie.

Hierdie oop veld van ses akker (sowat 2,4ha) in die stad is reeds sedert 1641 die eiendom van die oudste bestaande regiment in die Britse leër met die koddige naam die Honourable Artillery Company.

In 1537 het die doller-as-kopaf koning Henry VIII die Agtenswaardige Artilleriekompanie opgerig, maar die lede van hierdie vrywilligersregiment moes 362 jaar wag vir hul eerste oorsese, aktiewe diens en dit was toe uiteindelik – wag daarvoor – in Suid-Afrika tydens die Anglo-Boere-oorlog.

Die stuk grond staan bekend as die Artillerietuin, want dis waar die regiment se lang- en kruisboogskutters geoefen het.

Destyds is boogskietery “artillerie” genoem en kanonne “groot artillerie”.

Maar as jy dink dit is verwarrend, kan ’n mens seker dieselfde van rugby ook sê. Dit is immers ’n spel waarin ’n drie eintlik vyf tel en iemand dan daardie drie vervyf as hulle eintlik bedoel hy het dit versewe.

Of soos die Artillerietuin self wat nie ’n tuin is nie, maar ’n groot grasperk met perde op stal aan die een kant.

Daar, op die grasperk van die Artillerietuin, waar soldate in 1899 waarskynlik aangetree het om in Suid-Afrika te gaan veg, het ek my toe vandeesmaand op ’n tydelike paviljoen tuisgemaak onder ’n groot Amerikaanse vlag wat Viagrastyf in ’n koue wind gestaan het terwyl die spelers van die Eagles, nasionale rugbyspan van die VSA, hand op die bors hul volkslied sing.

Ek kyk na my program en, slaan my plat met ’n Kevin Pietersen- omgekeerde veeghou, die Eagles se een flank is die oud-Ikey JJ Gagiano, wat in Port Elizabeth woon en nog verlede maand vir die OP se Kings in die Curriebeker gespeel het.

Aan die einde van die Amerikaanse volkslied spat die Eagles se teenstanders, die Britse rugbyspan Saracens, soos miere uitmekaar om die bal rond te gooi, maar hol gou terug met verleë glimlagte toe God Save the Queen begin speel.

En ja, nog ’n omgekeerde veeghou, daar in die ry Saracens-spelers tel ek sewe Suid-Afrikaners wat “happy and glorious” op aandag staan vir die Britse volkslied insluitende Petrus du Plessis, kleinseun van Buurman van Zyl, wat die Bulle in die Noord-Transvaalse oertyd afgerig het.

Saracens se Suid-Afrikaanse konneksie strek natuurlik verder as nét die spelers op die veld.

Nie net word die span afgerig deur die oud-Bok Brendan Venter nie, maar Sarvu se voormalige hoof, Edward Griffiths, is ook die klub se uitvoerende hoof.

Die ware Sherlock Holmes-leidraad lê egter daarin dat Johann Rupert via sy groep ’n groot finansiële belang in die klub het met sy dogter Caroline Rupert, VenFin se Jannie Durand, Morné du Plesssis en Francois Pienaar op die direksie.

Hierdie eerste internasionale rugbywedstryd ooit in die City of London skop toe af op ’n veld waar oranje herfsblare soos vroeër jare se nartjieskille op Loftus en Ellispark rondlê.

Reg op die oorkantse kantlyn troon geboue so ongemaklik naby aan die veld soos moltreinpassasiers wat mekaar se armholtes tydens spitstyd uitruik.

Dis twee-uur in die namiddag en reeds so donker dat die ligte in die geboue aangeskakel is.

Al die werkers in een gebou staan met volwasse bruisdrankies in die hand op die vierde vloer. ’n Lekker warm losie met die beste uitsig oor die veld. Beter as die wankelrige, tydelike hoenderstellasie op die halflyn waar die afrigtingspersoneel en kameramanne in die koue wind blou word.

Op die paviljoen sit twee Amerikaanse sakemanne agter my. Hulle is regte City-tipes wat die £50-kaartjies kon bekostig, die rugby met die entoesiasme van begrafnisondernemers bekyk en oor belasting, rentekoerse en die beste hotelle in Parys praat.

Die hoë kaartjieprys het ’n kleinerige skare van sowat 1200 gelok. ’n Oordrewe prys hou die koper tuis.

Die oud-Springbok Schalk Brits, wat verkies is as die Britse Spelers se Speler vir die 2009-’10-seisoen, en Justin Melck blink vir Saracens uit in die stryd teen die verdedigende Olimpiese rugbykampioen.

Ja, dis reg, Amerika het die laaste goue medalje in rugby in die Olimpiese Spele van 1924 verower, waarna rugby as Olimpiese sport geskrap is.

Met die rustydtelling op 6-6 drafstap die modderbesmeerde spelers stomend in die koue na ’n gebou op die verste hoek.

Ek koop ’n bier tussen Saracen-ondersteuners met rooi fesse op hul kop.

Saracens is genoem na die Sarasene, die Moslem-woestynkrygers onder die leiding van Saladin wat Palestina van die Kruisvaarders herower het.

Die ouens met fesse lyk allermins soos Moslem-woestynkrygers, want hulle is deur die bank melkbleek, “lovely day”- Johnnie Englands.

Eintlik so normaal soos die gemiddelde, wêreldwye “lovely day”- gemanierde rugby-ondersteuner.

Gedurende die tweede helfte loei ’n brandalarm, die bruisdrankiekykers ontruim hul gebou en mis die beste oomblikke van die stryd, want Saracens teken twee verdoelde (of is dit vervyfde?) drieë aan en klop Amerika met 20-6.

Daarmee behaal Saracens die merkwaardige prestasie dat hy in die afgelope 12 maande twee internasionale spanne geklop het – Amerika en Suid-Afrika. Eina.

Ja, op 17 November verlede jaar het die Springbokke met 23-24 teen Saracens op Wembley se veld voor ’n effens groter skare van 46 281 die onderspit gedelf.

Dit lyk of moddergeploetery op velde soos die Artillerietuin nou gaan opdroog, want Johann Rupert se Saracens sal volgende jaar die eerste rugbyspan word wat sy tuiswedstryde op ’n kunsmatige grasveld in sy nuwe stadion gaan speel.

En dit gaan Mike Harding verkeerd bewys, want, sien, argitekte is mense wat wél van velde hou – solank dit kunsmatige grasvelde is.

Sing dan uit volle borste!

Gepubliseer in Beeld Saterdag 20 November 2010

As die Engelse woord vir ’n blaps ’n “boob” is, wat is ’n borsblaps in Engels? Is dit ’n “boob-boob”?

Dit is ’n prikkelende vertalingsvraag en die oplettende leser sal onmiddellik aanvoer dat die antwoord afhang van die onderliggende vraag van wat ek met ’n borsblaps bedoel.

Is dit Balie Boepmaag en ek wat kaalbors vleis braai? Of is dit jong dames wat bekend is omdat hulle bekend is en met byna meer grimering as klere goeie geld verdien in die kuns van hoe om onmanierlik uit te hang wanneer hulle voor die paparazzi in en uit motors klim?

Nee, vir my is daardie voorbeelde nie verspot genoeg nie en ly derde persone nie as gevolg daarvan nie. Wel, miskien is ek en Balie dalk tog so ’n bietjie kasterolie-op-die-oog vir die ander by die braai.

My voorbeeld van ’n borsblaps het tydens ’n kooptransaksie vroeër vandeesmaand op die Britse kanaaleiland Jersey plaasgevind.

’n Kliënt het opgemerk dat die kassier by die betaalpunt in ’n supermark haar £1,95 (sowat R22) gevra het vir ’n groen soetrissie van 79p (sowat R9) en daarom gevra dat al haar groente asseblief weer geweeg moes word.

Die resultaat was dat die kliënt £5 (sowat R56) te veel gevra is, want – wag daarvoor – die welbedeelde jong vrou agter die kasregister het per ongeluk haar eie borste op die weegskaal geplaas.

Dis nou ’n ware borsblaps.

Die kassier se stoel was te laag gestel en die kliënt is terugbetaal.

Daar was die afgelope paar dae nog ’n borsblaps hier in Brittanje, maar dit lyk of die reg sal moet bepaal wie eintlik geblaps het.

Die maatskappy Rodial verkoop ’n room onder die naam Boob Job op die internet. In plaas daarvan dat ’n plastiese chirurg fyn vermengde patats en Chappies in jou borste inplant, smeer jy net hierdie towerproduk twee keer per dag om en by etenstyd aan vir voller, meer opgehewe en fermer borste.

Ná 56 dae sal jou borste 8,4% groter wees. (Dis presiese wetenskap hier.)

Dan is jy 8,4% nader daaraan om soos Dolly Parton te lyk en, wie weet, miskien selfs 8,4% nader daaraan om soos sy te kan sing.

Boob Job se towerbestanddeel is ’n plantekstrak genaamd sarsasapogenin. Ek hoor dis afgelei van die Grieks vir “oorgewig waatlemoene”.

Daarom was Rodial baie ontsteld toe dr. Dalia Nield, ’n leidende Britse plastiese chirurg, sê weens ’n gebrek aan bewyse en ontleding is dit “hoogs onwaarskynlik” dat die room jou borste sal vergroot en “potensieel gevaarlik” kan wees.

Rodial dreig nou met ’n lastereis teen Nield en met regstappe teen die gesiene organisasie Sense About Science, wat met 2 000 wetenskaplikes en spesialiste werk, die Britse lasterwette wil hervorm en Nield ondersteun.

Ek wil my nie by die geveg laat betrek nie, vir twee redes.

Ek soek eerder ’n room wat my borste kan verklein. My maag ook.

Tweedens klink sarsasapogenin vir my na so ’n ware natuurlike produk soos slangolie en almal weet mos dat natuurlike produkte beter is as – wel, onnatuurlike produkte.

Aan die ander kant sal ek dalk wel Boob Job koop, want die room werk onder die vel en ek sal graag ’n Arnold Schwarzengreeffer wil word met presies 8,4% ekstra arm- en kuitspiere ná 56 dae.

Daardie waarborg is goed genoeg vir my.

Die hele affêring laat my dink aan my oorlede SAUK-vriend Retief Uys, wat vertel het van die destydse taalpolisie in die SAUK wat radiomense se taalgebruik uitgeluister het. Toe ’n nuusleser op ’n slag van “gevangenes op vrye voet” praat, het die taalpolisie hom ingelig dat dit meervoudig “gevangenes op vrye voete” moes wees.

Toe die nuusleser daarna ’n berig moes lees oor ’n kooruitvoering, verander hy die teks en lees: “Gisteraand het die Johannesburgse dameskoor uit volle borste gesing.”

Was daar in Retief se storie ’n borsblaps of ’n voetblaps?

Of dalk eerder voetéblaps?