Monday, 18 October 2010

Dís nou afstandbeheer!

Uit die VSA in beheer van die Bokke op my TV tuis in Engeland
Gepubliseer in Beeld, Saterdag 16 Oktober 2010

Iemand vertel my nou die dag van ’n kêrel op die kaai in Kaapstad wat ’n man roep wat sy kop by ’n skip se kajuitvenster uitsteek: “Hei, djy daar met ’n skip om djou nek...”

As die ou op die kaai ’n sonbril gedra het, kon die patryspoortman waarskynlik geantwoord het: “Ja, djy met die nag op djou oeghe...”

Die moderne nag-op-die-oogproduk is van Engelse afkoms.

James Ayscough het om en by 1752 per ongeluk die wêreld se eerste sonbril ontwerp. Hy het geglo dat die gekleurde glas in sy nuwe bril mense se visie korrigeer.

In ’n sekere sin is Ayscough vandeesmaand reg bewys met die begin van Europa se eerste toegewyde driedimensionele TV-kanaal in Brittanje, kompleet met duur interaktiewe 3D-brille vir visie-aanpassing. Baie mense is opgewonde: Haai, hier’s ’n slang wat jou in die oog pik.

Ek wil egter beslis nie in my eie huis soos ’n kruisbestuifde Darth-Vader-Hiegie-die-Vliegie met ’n donkerbril rondsit nie. En wat van vriende en familie wat, met respek, soos Ray Charles- en José Feliciano-nabootsers lyk?

Ek het reeds 51 hoëdefinisie-TV-kanale tuis, met briljante beelde in die fynste detail van premier David Cameron se sweetdruppels en stukkies kos tussen die tande.

My vlak van uitgelatenheid sal egter na nul val as ek in my eie huis toelaat dat die opposisieleier, “Dead Ed” Miliband, sy vinger uit die TV driedimensioneel in my neus opdruk.

Of miskien is ek maar net ’n knorpot wat nie daarvan hou dat al die politieke leiers nou jonger as ek is nie!

Wanneer 3-D-TV beskikbaar word wat jy met gewone oë sonder ʼn bril kan kyk mag ek miskien belang stel maar hierdie donkerbril 3D-tegnologie het vir my al die bekoorlikheid van ʼn epos van ene dr. William Monroe-Attah in Nigerië wat my vertel dat hy wegkwyn weens keelkanker en ek die enigste erfgenaam van sy boedel van £15 miljoen is – en my dan vra om die erfporsie te aktiveer met ʼn oordrag van £10 000 van my bankrekening na syne.

Daar is wel ’n nuwe TV-tegnologie wat my onlangs laat jubel het en vir my gekoppel kan word aan nog ’n Engelse uitvinding – William Webb Ellis se rugby.

Tydens my onlangse besoek aan die VSA sou die Springbokke twee rugbytoetse speel wat in Brittanje uitgesaai sou word, maar nie in die VSA nie.

Amerikaanse voetbal is mos nie rugby nie. Dis ’n vier uur lange TV-spektakel waarin mooi advertensies vir medisyne gemik op kosbare manlike liggaamsdele gruwelik onderbreek word deur gepantserde spelers met mikrofone in hul helms wat soos miskruiers mekaar rondstamp en dan soos mal hoenders onkant rondhardloop.

As lewenslange ondersteuner van eerw. Ellis se stout jeug (ja, daardie oortredertjie het uiteindelik ’n vroom prediker geword) het ek daarom besluit om myself in te rig sodat ek die Springbokke in die VSA kon volg.

My leermeester was iemand wat met plante praat, niemand minder nie as prins Charles, Brittanje se eie Buzz Lightyear van planeetredders.

Op ’n onlangse “groen”-toer het hy die slaapkamer van die koninklike trein aangepas na sy smaak met ’n funksionele enkelbedjie wat net tokkelossiebakstene gekort het.

Miskien snork Camilla, die hertogin van Cornwall en sy vrou, te hard dat hy so Spartaans leef. Hy het darem in die proses vir my die pad na die tegnologie van plekverskuiwing gewys.

Ek het ’n nuwe produk, ’n Slingbox, gekoop, dit aan my TV-dekodeerder in Engeland gekoppel en na die VSA gevlieg.

In die VSA het ek op my rekenaarskerm ’n virtuele afstandbeheerapparaat via breëband opgeroep, my TV in Engeland aangeskakel, die programme gekry waarop die toetse op Loftus Versfeld en Bloemfontein in Engeland uitgesaai word en in volskermgrootte op my rekenaar lewendige rugby tussen Suid-Afrika en Australië gekyk terwyl ek vanaf Obamaland my TV-kamer in Engeland beheer.

Dis baie beter as die bebrilde 3D-bohaai!

Slingbox kan ’n lekker produk wees vir Suid-Afrikaanse vakansiegangers om DStv in Desember by die see te volg.

Net jammer dat Suid-Afrika se breëbandtoegang waarskynlik oor die algemeen nog te nag-op-die-oog vir Slingbox is.

Te duur. Te stadig. Te jammer.