Monday, 23 August 2010

Goeie waarde vir £21,95

Rubriek wat op Saterdag 21 Augustus 2010 in Beeld verskyn het.

Geagte leser, ons begin met ʼn paar administratiewe aankondigings.

Dames, in my teenwoordigheid is kniebuigings nou heeltemal in orde. En here, ek sal u van nou af in ootmoed ʼn wuif met die agterkant van my hand gee wanneer u die hoed vir my lig.

U mag my maar van nou af as U Lordskap aanspreek.

Ek is effens teleurgesteld dat dit ʼn nie-aristokratiese titel sonder sitting in die Britse Hoërhuis is maar ek het skriftelike versekering dat die titel gebruik mag word in dokumentasie soos paspoorte, bestuurslisensies, bankrekenings, kredietkaarte en persoonlike skryfbehoeftes.

Ek kan nie wag vir my vlug later vandeesmaand na die VSA nie. “Lord Greeff, u word onmiddellik van ekonomieklas na eersteklas opgegradeer. Sjampanje vir u?” In plaas van die gewone nors Amerikaanse immigrasiebeampte wat my bekyk asof ek familie in Afghaanse grotte het, sal hy my glimlaggend begroet met “Lord Greeff, welkom in die VSA!”

En, in plaas van my gewone informele epos aan my vriend Mike vir die bevestiging van ons weeklikse gholfspel, sal ek ʼn epos stuur met my nuwe familieskild heelbo en die woorde: “Geagte Michael, Lord Greeff bevestig die behaaglikheid van sy teenwoordigheid met u op …”

Ja, wat is ʼn lordskap sonder ʼn familieskild? Of pretensielose behaaglikheid.

Oplettende lesers sal nou natuurlik met reg vra of ek my lordskap geërf het soos Lord Oom Piet in Jamie Uys se 1962-fliek.

Nee. My vrou het “Lady of Chelmsford Manor” in Nottinghamshire geword – ʼn feodale heerser met feodale grond waaraan hierdie eeue oue titel gekoppel is in terme van die Britse Wet op Eiendom van 1922. Omdat ek met Haar Ladyskap getroud is, is ek nou Sy Lordskap Greeff. Dankie dat u vir my opgestaan het. U kan nou maar weer sit.

Daar is egter ʼn kinkel. Sy het die titel van my ontvang.

U sal nou natuurlik vra hoe iemand ʼn eer kan ontvang wat hy self gee.

Wel, ons vier ons huweliksherdenking vandeesmaand en, as ʼn geskenk met edele bedoelings, het ek vir my vrou hierdie ladyskap van ʼn webwerf genaamd Lordtitles.co.uk gekoop. Al wat ek moes doen was om haar volle naam suksesvol op ʼn internetvorm in te tik.

Teen £21,95 was dit nogal goeie waarde waarvoor ʼn vriendelike ou genaamd Paul my ʼn mooi amptelike sertifikaat gestuur het. Hy doen deeglike werk want hy het ons ook twee verdere sertifikate gestuur wat wetsregulasies en Haar Ladyskap se regte dek.

Ek hoop nou nie sy gaan vies wees omdat haar titel nie aristokraties is nie maar dis die beste wat jy deesdae kan kry vir die prys van ʼn bottel rooiwyn. Dis in elk geval teen die Britse wet om aristokratiese titels te verkoop.

Háár (ook my) titel is blykbaar wel ʼn verkoopbare, semi-uitgestorwe feodale titel wat eenvoudig bevestig dat sy feodale grond besit. Oukei, haar feodale grond is bietjie onekonomies vir boerdery want dis net een vierkante voet van Chelmsford Manor se terroir (ons praat maar so in hoë kringe) maar gelukkig besit sy haar vierkante voet vir 999 jaar, betaal sy geen belasting daarop nie en word dit kosteloos vir haar bestuur. Ek het mos gesê dis goeie waarde.

Met die verskyning van hierdie rubriek is sy nog onbewus daarvan dat ek haar hierdie besondere eer skenk want Haar Ladyskap lees nie Beeld hier in Engeland nie en ons huweliksherdenking is eers volgende week.

Ek sal dit maar nie aan Haar Ladyskap noem dat die Graaf van Bradford in Burkes Peerage sulke grondbesitters van een vierkante voet verkleineer nie. Hy sal, sal hy nie? Sy hoef ook nie te weet dat hy dit gelykstel aan “landlord” van die Dog and Duck-pub nie.

As lord sal ek my plegstatige stilswye behou.

Dis miskien die enigste manier waarop ek gaan keer dat Haar Ladyskap my daarvan gaan beskuldig dat ek disleksies is en die woord “lord” verkeerd gelees het...