Monday, 21 June 2010

Smullekker Bafana-slaai!

Hierdie rubriek het op Saterdag 19 Junie 2010 in Beeld verskyn

Eksentrieke mense doen onverwagse dinge weg van die sentrum van ander mense se norme.

Varkie, my boekhoulektor op universiteit, het byvoorbeeld een oggend met twee dasse om sy nek kom klasgee.

En my oorlede vriend Willem het in ’n hysbak vol vreemdelinge agter geslote deure aangekondig: “Julle sal seker wonder hoekom ek hierdie vergadering byeengeroep het, maar julle nonsens met my dogter moet nou endkry!”

Londen het selfs sedert 1781 ’n sosiale klub vir sulke mense, The Eccentric Club, met prins Philip as die huidige beskermheer – ’n man wat tydens ’n resessie in 1981 gesê het: “Almal het gesê ons moet meer vrye tyd hê. Nou kla hulle omdat hulle werkloos is.”

Eksentrisiteit gaan dikwels gepaard met ’n ondeunde sin vir humor wat die uitlaatgas is van ’n renmotorbrein met kreatiwiteit as brandstof.

Kom ons toets dit: As jy op 21 ’n kaskar-matriek deurskraap, op 29 ’n politikus met ’n miljoenêrslewe is en jouself as “Marxis, Leninis en progressiewe nasionalis” beskryf, is jy eksentriek?

Is jou uitspraak ondeunde of onbeplande humor?

Die antwoord? Marxisties-Leninistiese komediante sukkel nogal met kaartjieverkope. Miskien is prins Philip se ander opmerking ʼn goeie maatstaf: “Dontopedology is the science of opening your mouth and putting your foot in it.”

Verlede week, toe Bafana Bafana die openingswedstryd in WB 2010 gespeel het, het ek op Trafalgar-plein ’n ware eksentrieke politikus ontmoet.

Boris Johnson, Londen se burgemeester, het op sy gewone vervoermiddel – sy trapfiets – Trafalgar-plein binnegery vir die amptelike inwyding van ’n TV-uitsending op ’n reuse-skerm van die openingsdag in Soccer City, Johannesburg.

In ’n gekreukelde, donker pak klere met ’n gat in die een broekspyp waar sy fietsketting hom gereeld raps, het hy afgeklim en sy rugsak afgehaal terwyl blonde hare deur die gate van sy fietsryhelm gefladder het – hare wat hy een keer beskryf het as “’n produk van willekeurige en mededingende natuurkragte”.

Daar staan hy – die man in beheer van Londen, ’n stad met meer ekonomiese bates as dié van Portugal en Denemarke saam – en hy het per fiets aangekom met nie ’n enkele lyfwag in sig nie.

En ek dink so by myself, as hy ’n Marxistiese Leninis was, sou hy sekerlik in ’n duur Duitse motor gearriveer het.

Geen wonder dat die Mo Ibrahim-stigting nou vir die tweede jaar nie die $5 miljoen-Ibrahimprys vir voortreflike politieke leierskap in Afrika wou toeken nie; hulle kon nie ’n fietstrappende Afrika-politikus met ’n geskeurde broekspyp vind nie.

Boris verruil sy helm en rugsak vir ’n veelkleurige Suid-Afrikaanse serp en bestyg ’n verhoog, ingewig tussen twee van die brons leeus onder Nelson se Suil.

Iemand gee hom ’n vuvuzela waarmee hy op die Oudtshoornse blaasmetode ’n moeë volstruis met ’n ernstige longaandoening naboots.

Maar dan tuimel die woorde gemakliker wanneer hy Suid-Afrikaners loof vir hul gemeenskaplike landstrots en hy in die gees van die Eccentric Club byvoeg: “Almal is opgewonde en ek is nou ook besmet met daardie opgewondenheid.”

Besmet? Dis ten minste ʼn goeie besmetting. Soos die besmetting van goeie politieke eksentrisiteit.

Later staan ek op die hoofbalkon van die vierde verdieping van Suid-Afrika-huis op dieselfde plek waar Jan Smuts, op sy dag ook eksentriek, in 1933 by die inhuldiging daarvan langs die Britse koning en koningin vir ’n skare gewuif het.

Onder my is 8 000 mense voor die groot skerm terwyl die vuvuzelas raas en Bafana Bafana speel.

Oor die vlakte van mense daar onder migreer reuse-kameelperde, sebras, leeus en rooibokke – 5 m hoë marionette van die teaterstuk The Lion King wat deur akteurs met drade beheer word.

Dis ’n skouspel wat sê: Suid-Afrikaners is plesierig.

En ’n bietjie eksentriek, want hulle hou van die Durban-hoenderkerrie, Mandela-kaasburgers en Bafana aartappelslaai in die kosstalletjies daaronder.