Monday, 17 May 2010

’n Eleksie met disleksie

Soos gepubliseer in Beeld, 15 Mei 2010.

In ’n TV-skets uit die 1960’s het die komediant Michael Bentine en ’n paar onverskrokkenes ’n pad deur ’n woud oopgekap om die bron van die Teemsrivier te soek – net om te vind dat dit ’n lekkende kraan was. Sy oplossing? Hy het die lekkende wasser vervang. En die Teems laat droogloop.

Vandeesmaand se Britse algemene verkiesing het my aan Bentine se lekkende kraan en droogmakery herinner.

Op ’n omgekeerde wyse het ’n vloed van 29,5 miljoen kiesers drupsgewyse regeringstilstand veroorsaak. Vyf dae lank.

Nie dat dit onverwags was nie. Jonathan Lynn het reeds in die 1980’s geskryf dat die Britse kiesstelsel die enjin van ’n grassnyer en die remme van ’n Rolls-Royce het.

En vandeesmaand het die publiek gerem in ’n eleksie met disleksie.

Die verkiesingsuitslae was swak uitgespel en moeilik leesbaar. Niemand het regtig gewen nie.

David Cameron se Konserwatiewes het met die meeste setels, maar sonder ’n regerende meerderheid geëindig.

Die regerende Arbeiders, met die grootste verlies sedert 1931, het tweede gekom, maar Gordon Brown het met sy tipiese bulderende grasie en glimlag asof hy laggas gesluk het, aangedring dat hy kon aanhou regeer. Nick Clegg se Liberaal-Demokrate het in die derde plek gemetamorfoseer as prikkelpop met genoeg verleidelike setels om ’n regering met enige van die ander twee te vorm.

Hoofseun Cameron en Bloedneus Brown het flikkers gegooi om te dans met skoolheld Clever Clegg en sy bekoorlike 57 setels, terwyl die kleiner outjies – die Ierse, Skotse en Walliese Nasionaliste – hul sosialistiese rooi lipstiffies uitgepluk het vir soentjies met die Arbeiders.

Soos met enige tienerpartytjie is daar egter altyd ’n paar rokers en moeilikheidmakers wat verkies om buite die garagedans rond te drentel en eerder rusie te maak – in hierdie geval die Ierse Sinn Féin- party met hul vyf setels. Sinn Féin daag nooit by Westminster op om hul setels te verteenwoordig nie, want hulle sal eerder aan ’n kleptomaniese Ierse kabouter as aan die Britse koningin trou sweer.

Die dag ná die verkiesing het die Konserwatiewes die Liberaal-Demokrate vir ’n openingsdans gevra en net lekker begin sokkie-sokkie toe Bloedneus Brown die musiek stop en aankondig dat hy nie meer die Arbeiders wil lei nie en nie self verder wil dans nie. Met Bloedneus uit die pad was die Arbeiders skielik vir die Liberaal-Demokrate aantrekliker op die dansvloer. Hoofseun Cameron en sy muurblommetjies het suurgesig rondgestaan.

Maar, soos wat regte verliefdes teen die einde van elke garagedans mekaar vind wanneer “Save the Last Dance for Me” gespeel word, het die Liberaal-Demokrate uiteindelik na die Konserwatiewe muurblommetjies teruggekom.

Toe die dansmusiek vyf dae ná die verkiesing ophou, het die Konserwatiewes en Liberaal-Demokrate gekys in ’n regeringskoalisie en hul ewige liefde aan die koningin gaan verklaar.

Skoolkyse is gewoonlik kortstondig, wat my laat wonder hoe lank hierdie politieke kys gaan hou. Die “verliefdes” verskil nogal baie van mekaar – van verlinkse na verregse standpunte oor Europa, belasting en proporsionele verteenwoordiging – die Liberaal-Demokrate het met 23% van al die stemme slegs 8% van die setels gewen.

Die Cameron-Clegg-kyskoalisie wil vyf jaar oorleef met ’n meerderheidsreël van 55% parlementêre stemme pleks van die huidige meerderheid van een stem meer as 50%.

’n Koalisie kan vinnig verander in ’n regering ván die besluitloses, déúr die besluitloses en vír die besluitloses.

In die aanloop tot die verkiesing het die satirikus Rory Bremner miskien die spyker op die kop geslaan toe hy die verkiesing vergelyk het met die dreunsang wat ’n mens dikwels by betogings hoor: “Wat wil ons hê? Ons weet nie! Wanneer wil ons dit hê? Nou!”

Wel, die Britte het dit nou

En die maan huil oor ons

Gepubliseer in Beeld, 17 April 2010

Marshall McLuhan, wat die term “global village” uitgedink het, het gesê: “Elke gemeenskap eer sy lewende konformiste en sy dooie moeilikheidmakers.”

Ek skryf vandag vanuit ’n voormalige kolonie van Brits-Amerika, ’n Amerikaanse deelstaat wat so ’n groot globale moeilikheidmaker van weleer was dat dit die VSA gebaar het – Suid-Carolina.

In 1663 het die provinsie Carolina, genoem na koning Charles I van Engeland, ’n kolonie van Brits-Amerika geword. Die mense van Carolina was sulke dwarstrekkers dat hulle nie net oorloë teen die Indiaan-stamme gevoer het nie, maar ook onderling baklei het en teen 1729 afgestig het as Noord en Suid.

Daar is blykbaar vandag steeds ’n argaïese wet in Suid-Carolina wat elke volwasse man verplig om op Sondae sy geweer kerk toe te neem om moontlike “Rooihuid-aanvalle” af te weer.

Dis natuurlik nie meer ’n afdwingbare wet nie. As enige Amerikaanse Billy the Kid Malema hier “shoot the Red Indian” op ’n karaoke-aand sing, sal hy onmiddellik ’n gestreepte traliesonbrand aangebied word.

In Maart 1776 het strydlustige Suid-Carolina ’n onvleiende gevurkte tweevingergroet aan koning George III gerig en die eerste Brits-Amerikaanse kolonie geword om onafhanklikheid van Brittanje te verklaar.

So was daar toe ’n oorlog teen Brittanje en het die Verenigde State in daardie jaar tot stand gekom.
Soos ’n verkoue wat altyd terugkom, het Suid-Carolina wraggies weer in 1860 opgeduik as die eerste staat wat van die Unie van die Verenigde State afgestig het en daarmee ’n burgeroorlog ontketen het.

Ek sit vandag hier in die voormalige Brits-Amerika en onthou hoe ek as 23-jarige in die oertyd van die 1970’s die eerste keer na die VSA gereis het, op die goedkoop lugdiens Loftleidir Icelandic, van Luxemburg via Reikjavik na New York.

Onder jongmense het Loftleidir ook bekend gestaan as Graffiti Air. Die 1970’s was ’n tyd waarin elke Jan Krap en sy maat met die pen sosiale kommentaar in publieke plekke gelewer het en dié lugdiens het deurgeloop.

Op daardie eerste vlug na die VSA het ek na ’n graffiti-juweel in ’n netjiese handskrif gestaar: “Sometimes the wolves are still and the moon howls.”

Vir my was dit ’n opsomming van skok en tragedie. Kort daarna het ek self ’n groot skok ervaar in een van die twee Carolinas.

Tydens ’n twee weke lange reis in Greyhound-busse van New York na Los Angeles het ’n rower in ’n besige kafeteria van die halte in Charlotte, Noord-Carolina, ’n mespunt onder die tafel tussen my bene op een van my meer gewaardeerde liggaamsdele gedruk en my beursie geëis.

In skok het ek my aanvaller gevra hoekom hy blind in sy een oog was: ’n Vrou het kookolie in sy gesig gegooi toe hy haar in haar kombuis wou beroof.
Die mespunt het my seergemaak en al waaraan ek kon dink, was om my warm koppie koffie in die rower se goeie oog te gooi en te hardloop, met hom op my hakke.

Die busbestuurder het gelukkig die hidrouliese deur agter my toegemaak en die rower het skreeuend met sy mes teen die bus se vensters geslaan.

Lank ná die bus se vertrek, alleen en met geen medepassasier naby my nie, het my liggaam steeds geruk en gebibber van skok.

Die maan het vir my gehuil.

En nou het die Amerikaanse koerante op my huidige reis groot gewag gemaak van die moord op mnr. Eugène Terre’Blanche.

My siening?
Ek kan simpatiseer met die afsterwe van ’n moeilikheidmaker, maar ek kan nie moeilikheidmakers, dood of lewendig, eer as hulle maar net opponerende kante van rassisme is nie.

Die graffiti-filosoof se woorde bly by my. Die maan huil oor Suid-Afrika. En weer oor my.

Dit hoort nie so nie.