Monday, 22 March 2010

Zuma-foon en sleg beeld

Dis nie net die staatshoof van Suid-Afrimexika wat gefouteer het nie

Soos verskyn in Beeld op 20 Maart 2010

Ek het iewers gelees dat ’n verslaggewer se verhouding teenoor ’n politikus soos dié van ’n hond teenoor ’n lamppaal is.

In die geval van ’n staatsbesoek dink ek egter daardie verhouding is meer soos dié van ’n aap in ’n dieretuinhok wat ’n besoeker dophou.

Ek het dit vroeër vandeesmaand besef toe ek met ander ingehokte media-ape op ’n verhogie met relings saamgebondel gestaan het in die middel van die paradegrond van die koninklike Horse Guards tydens die Britse seremoniële verwelkoming van pres. Jacob Zuma op sy staatsbesoek.

Langs ons soölogiese podium was die Grenadier Guards op aandag met 100 ruiters van die koninklike Household Cavalry en voor hulle koningin Elizabeth II en Zuma op ’n hoofpaviljoen saam met ’n klomp hooggeplaastes in die modieuse drag van skoppensboere en grapmakers uit ’n pak kaarte.

Een van die kaartmanne het die belangrike titel Silver Stick in Waiting gedra. Soos ’n Shivering Stick het ek in ’n vriesende windjie gewag totdat Zuma, kaalkop, en prins Phillip met ’n pluiskeil en ’n stywe been die Grenadier Guards reg by ons aaphok kom inspekteer het.

Later dieselfde dag was ek weer ingehok toe ek in Buckingham-paleis wegkruipertjie met koningin Elizabeth gespeel het.

Twee uur voor die koningin se amptelike staatsbanket vir Zuma het ek en nog vier joernaliste ’n lang galery betree op pad na ’n private besigtigingstoer van die banketsaal toe die koningin skielik van die ander kant aanstap. Dis blykbaar nie goed om in die koningin vas te loop nie – wat vreemd is, want sy is klein en dit lyk nie of sy jou ernstige skade kan aandoen nie. Ons gids het ons summier in ’n kombuisgang teruggeboender.

Daar staan ons toe ingehok terwyl sy aandrentel, totdat sy drie tree weg ’n oomblik stilstaan en reguit in my oë kyk. Ek kon net sowel ’n kennisgewing om my nek gedra het: Journalistus penneleccorus africanus. Later, toe ek om die 171 tafelplasings in die balsaal stap, het ek gewonder of Zuma se Frans op ’n hoër vlak sou wees as “voulez-vous coucher avec moi?”, want die spyskaart was net in Frans. Maar dan is die Britse monarg se wapenskildleuse ook in Frans en nie Engels nie: “Dieu et mon droit.” (God en my reg) wat haar sekerlik die “droit” gee om met haar “cuisine” te doen wat sy wil.

Zuma het ongelukkig vroeër daardie dag iets gedoen wat hy nie moes nie toe hy ’n skaakstel aan Haar Majesteit geskenk het wat identies is aan een wat oudpres. Mandela op sý staatsbesoek in 1996 aan haar gegee het. Dié daad het alle Britse persmanne onmiddellik Monty Python-draaiboekskrywers gemaak.

Daar was egter ook ’n Britse foutjie wat die aandag van elke John Cleese in ’n nuuskantoor ontglip het. Buckingham-paleis se operasionele nota het amptelik verklaar dat Zuma die Donderdag by die Londense Guild Hall met ’n koninklike saluut verwelkom sou word waarna – la cucaracha! – die Mexikaanse volkslied gespeel sou word. So, Britte, skaakmat. Of soos ons in Suid-Afrimexika sê: “Adios, idiota!”

Vroegoggend ná die staatsbanket het ek weer bibberend saam met ander mediamense agter ’n barrikade twee ure lank vrywillige diepvriesbehandeling ondergaan terwyl ons gewag het om ingenooi te word om in Downingstraat 10 se perslokaal te gaan ontdooi.

Die snoesig warm perskonferensie tussen Brown en Zuma het gletserkoud geëindig toe die amptelike no. 10-kameraman ná die tyd gekla het dat Zuma ’n selfoon in sy sak gehad het wat die beeld geaffekteer het, ten spyte daarvan dat ’n persman sy selfoon reg voor die kameraman gebruik het. Die kameraman het volgehou om Zuma te blameer, totdat ’n Suid-Afrikaner onder groot gelag sê: “Haai, miskien het eerste minister Brown ’n selfoon in sý sak gehad.”

Tragiese nuus: Britse kameramanne het nie ’n sin vir humor nie.