Thursday, 25 February 2010

Bangbroekstories

Hierdie artikel oor die nagmerries waaroor ons dit geniet om wakker te bly het op 20 Febraurie 2010 in Beeld verskyn onder die titel "Dit verander soos dit bly"

In 1963 het die Amerikaanse burgerregtestryder Martin Luther King jr. gesê: “Ek het ʼn droom”.

Die wêreld skreeu daarenteen al eeue lank: “Ek het ʼn nagmerrie”.

Met die oorgang na die 1800’s het baie mense in die nagmerrieteorie van Thomas Malthus geglo van wêreldhongersnood omdat die wêreldbevolking baie vinniger as kosproduksie sou groei. Gelukkig sit Malthus die pessimis die pot toe mis omdat hy nie nuwe voedseltegnologie voorsien het nie.

Op Oujaarsaand 31 Desember 1999 het almal vreesbevange gewag vir die oomblik wanneer die kalender na 2000 sou oorslaan, die milleniumgogga rekenaars psigopaties sou maak en vliegtuie uit die lug sou val.

Nou, 10 jaar later in Desember 2009, staar ons na die nagmerrie van klimaatsverandering waarin ons gaan verdor/verdrink/verkool/verkluim/ (skrap wat nie van toepassing is nie). Ja nee, die nuwe klimaatsnagmerrie is gebou op die nuutste vorm van wetenskaplike bewys – konsensus van opinie.

Politieke konsensus het die nagmerrie van wapens van massavernietiging in Irak bewys ten spyte van lastige teenstrydige wapeninspeksies. En vandag is daar konsensus oor allerlei nagmerries waarin ons vroeë afsprake in die Doodsengel se dagboek het. Jy mag miskien varkgriep ontduik maar kragdrade en selfone gee jou reeds breinkanker en ongelukkig volg jy ʼn dodelike nagmerriedieet van salmonella in eiers, drank, kitskos, sout en/of geneties gemodifiseerde kos (skrap wat nie van toepassing nie).

Ek is nou so bang dat ek sommer wil aansluit by die Koalisie vir die Verbanning van Dihidrogeen-monoksied, ʼn kleurlose, reuklose chemiese verbinding wat voorkom in suurreën en kankergewasse. Dihidrogeen-monoksied dra by tot die kweekhuiseffek en is baie aktief in klimaatsverandering. Dit kan brande en elektriese defekte veroorsaak, skep erosie, verhaas roes en is fataal as mens dit inasem. (Geagte leser, ons onderbreek hierdie propagandistiese oproep want die onderwerp verg meer studie omdat dihidrogeen-monoksied water is.)

Die kreet “ek het ʼn nagmerrie” klink vir my baie soos die epigram van Jean-Baptiste Alphonse Karr, redakteur van Le Figaro in Parys in die 1800’s: “Plus ça change plus c'est la même chose.” Hoe meer iets verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Karr se siening het vir my nou die dag sin gemaak toe ek ʼn ooreenkoms ontdek tussen die onveranderlike bestendigheid van wetenskaplike bangmaakstories en my vriend Jim Kent se broek.

Ek en Jim, die melkboer in ons dorpie, was saam by ʼn troue in die skilderagtige dorpie Hambleden, ʼn klipgehuggie waar flieke soos Chitty Chitty Bang Bang verfilm is.

Ons stap saam uit die kerk – ek in ʼn pak klere en Jim in ʼn swaelstertbaadjie en strepiesbroek wat steeds die korrekte modepolisiedrag is vir ʼn man by ʼn doop, troue of begrafnis. Die swaelstertbaadjie het ʼn oop snit aan die voorpante sodat ʼn mens maklik op ʼn perd kan klim en wegtrippel of, dink ek so in die stilligheid, fluit-fluit biologiese take by ʼn urinaal kan afhandel.

“Hoe oud dink jy is hierdie strepiesbroek?”

Ek haal my skouers op.

“Agt-en-negentig jaar,” glimlag hy. “Dit was my skoonpa se skoolbroek by Westminsterskool in Londen amper ʼn eeu gelede. By Eton is ʼn manelpak steeds vandag op Sondae en spesiale geleenthede verpligtende drag vir skoliere.”

Plus ça change. Die broek pas hom perfek. Ek sê dis ongelooflik dat hy 98 jaar later sy skoonpa se presiese fisiese formaliteite in die verligting van likiditeit kan navolg en hy antwoord dat hy effens versigtig moet wees want die broek het knopies en nie ʼn ritssluiter nie. (Later lees ek dat Gideon Sundback se ritssluiterpatent twee jaar na daardie broek in 1913 toegeken is en dat ritssluiters eers in die 1930’s in klere gebruik is.)

Die les?

Sekere modes verander; ander leef voort.

Jim se broek is so standvastig soos die sirkelgang van mense se vaste geloof in wetenskaplike bangmaakstories.

Die knopiesbroek is ʼn status- en affiliasiesein. Dis soos die affiliasieseine van die konsensusgroep wat daaraan glo dat die wêreld volgens die Maja-kalender op 21 Desember 2012 gaan eindig.

Sal 2012 die finale ontknoping van die mensdom se nagmerriestorie wees?