Tuesday, 19 January 2010

Druk “op” voor jy sou sterf - uit die wiel het die wondere van hysbak en roltrap gespruit

(Gepubliseer in Beeld op Saterdag 16 Januarie 2010.)

Toe die eerste wiel by Oerman Ingenieurswerke uitrol het die ekonomiese landskap oornag verander. Die Van der Grot-familie was skielik mobiel. Mevrou Van der Grot kon haar spelonk vir ultramoderne stok-en-velle opslaanbehuising verruil en meneer Van der Grot was op pad na die gesondste uiteindelike toepassing van die wiel – die geperforeerde toiletrol.

Ons almal sou egter vandag as Van der Grotte in enkelverdiepinghuisies in Pannekoekfontein en Platplaasburg gewoon het as dit nie vir twee verdere verfynings van die wiel was nie – die hysbak en die roltrap – toonaangewende verlengings van die mens se voetstap.

Ek het dit nou die dag in die voorportaal van die Grosvenorhotel by Victoriastasie besef waar die wêreld se eerste hotelhysbakke (“ascending rooms”) tussen 1861 en 1864 in diens geneem is sodat hotelgaste kloustrofobiese doodsvrees in ʼn klimtolhok met totale vreemdelinge kon deel. Soos die humoris Sam Levenson later sou skryf: “As jy in ʼn hysbak sterf, maak seker jy druk die ‘op’-knoppie.”

Die Grosvenorhysbakke was die resultaat van ʼn deurbraak in 1853 toe Elisha Otis op ʼn hysbak hoog in die lug gestaan het en ʼn man met ʼn byl beveel het om die hysbak se kabeltou af te kap. ʼn Verstomde skare het in New York gesien hoe die hysbak net ʼn paar duim val en stop want Otis het ʼn veiligheidsremstelsel vir hysbakke ontwerp en bewys dat, as jy nie in ʼn hysbak wil sterf nie, jy seker moet maak dat jy ʼn outomatiese “stop”-knoppie het.

Otis se bylkap het ʼn landskap geskep van opgestapelde besighede in wolkekrabbers en ondergrondse bedrywighede soos moltreine en diep myne.

Soos ʼn omie met ʼn Zimmerraam het sy oorspronklike demonstrasiehysbak teen 40 voet per minuut beweeg. Vandag slaan Otis se nuutste hysbakke jou ore toe teen ʼn berigte spoed van 3500 voet per minuut in die wêreld se hoogste gebou, die Burj Khalifa (voorheen die Burj Doebai).

Die tegnologiese wonder van ʼn passasiershysbak het eintlik as vermaak begin – soos die persoonlike rekenaar wat drie dekades gelede nie veel meer as ʼn amusante videospeelding was nie.

Dertig jaar voor Otis se remstelsel, in 1823, het menere Burton en Horner ʼn pretrit in Engeland bedryf waartydens hulle 20 mense op ʼn slag in ʼn “ascending room” opgehys het na ʼn 37-meter hoë platform met ʼn panoramiese uitsig oor Londen.

Snaaks genoeg, net soos die hysbak, was die eerste roltrap, op Coney-eiland in 1895 in New York, ook ʼn pretparkrit. Die Otismaatskappy het die pret-na-praktiese-produk resep geken en in 1899 die roltrap-patent uitgekoop.

ʼn Jaar vroeër, in 1898, het die Londense winkel Harrods reeds die eerste roltrap in Brittanje geïnstalleer. Dit was só uitdagend dat winkelassistente cognac en vlugsout bedien het aan kliënte wat die roltrap getrotseer het. Dit was ʼn Franse roltrap. Vandaar die Franse brandewyn. Miskien kan baie huidige Harrods prysetikette, soos R880 vir ʼn kilogram sjokolade, ook vandag gepaardgaan met vlugsout en cognac.

Die Londense moltreinstelsel het uiteindelik in die roltrapspoor van Harrods gevolg en in 1911 die eerste ondergrondse roltrap by Earls Court in gebruik geneem. Mense het spesiaal gekom net om op die aardigheid te ry maar baie mense was bang vir die ding en ʼn man met ʼn houtbeen, Bumper Harris, is in diens geneem om op en af met die roltrap te ry om passasiers gerus te stel. Wel, die eerste roltrappe was van hout gemaak en ʼn houtbeen het goed ingepas maar verskeie mense het ook gevra of meneer Harris nie miskien juis sy been in die nuwe affêring verloor het nie.

Vandag is daar 122 hysbakke en 417 roltrappe in die Londense moltreinstelsel.

In Jules Verne se boek het Phileas Fogg van die Reformklub in Londen vertrek en in 80 dae om die wêreld gereis.

Vandag reis die moltreinstelsel se 417 roltrappe elke sewe dae twéé maal om die wêreld.

Miskien het die wiel gedraai en leef die Van der Grotte daar onderkant Londen se strate weer voort.