Monday, 23 November 2009

As ware talent voortleef

Sedert Joeri Gagarin se eerste ruimtevlug in 1961 het almal geweet dat die aarde blou is en die ruimte swart. Dis nou totdat NASA vandeesmaand op hulle webwerf die gemiddelde kleur van die heelal gepubliseer het – snaaks genoeg vir die heelal se grootte nie in wye doek nie.

Skielik vind ons nou uit dat die heelal nie swart is nie maar beige (geelgrys) wat NASA as kosmiese latte beskryf, soos in caffellatte.

Bestudeer NASA dan Starbucks? Daardie sterrekundiges moes sekerlik onder die invloed van kafeïne of Pavarotti-opnames gewees het want hulle tweede keuse na kosmiese latte was cappuccino cosmico. En dit is nou la verità, steenkoolswart op ivoorwit.

Het al die sterrestelsels dan die heelal tot kosmiese latte verbleik?

Hier op aarde kan ek sweer dat die meubels in my TV-kamer nou verbleik het tot mocha celebrità as gevolg van “sterre” – die verkeersopeenhoping op Britse televisieskerms van skitterwit glimlaggende onsinnige “celebrities”.

Elke TV-kanaal rym nou met banaal.

Klokslag sien jy ʼn uurglasmeisie met ongeneeslike LS (Leeghoofdigheidsindroom) wat beroemd is …erm…omdat sy beroemd is of uit ʼn nagklub steier met ʼn ander selebriteit wat die volk se hart gesteel het omdat hy of sy lewendige kakkerlakke in ʼn nagemaakte oerwoud op ʼn nagemaakte realiteitsprogram geëet het. Waar kom al hierdie befaamdes vandaan? Akteurs met sementgesig toneelspeeltalent, vals sangers op soek na ʼn wysie, wintie ontwerpers op soek na uilskuikens wat nuwe vere soek en kokke met ʼn woordeskat beperk tot die letter F.

Daar is darem wel beroemdes wat hulle faam te danke het aan talent, hardwerkendheid en deursettingsvermoë. ʼn Ster soos Elton John of ʼn toprugbyspeler.

Op Sondag 8 November kom die twee toe vir my bymekaar toe ek saam met oud-Springbok Cobus Visagie die Elton John-ontaalvertrek in die Vicarage Road-stadion instap na afloop van ʼn rugbywedstryd tussen Bath en Saracens, die Engelse ekwivalent van ʼn Currybekerwedstryd.

By die ingang van die vertrek is daar twee glaskaste met glinsterende kostuums van Elton John. Saracens deel die stadion tans met Watford FC, ʼn sokkerklub met ʼn lang finansiële en bestuursverbintenis met sy lewenslange ere-president, Elton John.

Saracens rugbyklub se eie Elton John is ʼn man sonder ʼn glinsterpak klere, Johann Rupert, wat effektief 50 persent van die klub besit en beheer. Oud-Springbok Brendan Venter is die afrigter en ʼn derde van Saracens se spelergroep is Suid-Afrikaans waaronder verskeie Springbokke. Geen wonder Saracens is bo aan die Engelse punteleer nie.

Daar in die Elton Johnvertrek, tussen die rugbyspelers en hulle dierbares en met die klank van Afrikaans om my (Wikus van Heerden wat vir sy kleuter sê: “Kom na Pappa toe”) praat ek met Saracens se losvoorspeler, Ernst Joubert, wie se oupa, Piet Malan, in 1949 vir die Springbokke gespeel het en wat ek vir een of ander rede gedink het nie meer met ons is nie.

“Nee, my oupa is springlewendig en deesdae die oudste oorlewende Springbok,” lag hy.

Ek vertel Ernst dat ek bly is dat Oom Piet se ster nog skyn want ek ken hom al jare lank van my bestuurstydperk by Ellispark.

Vandeesweek, 17 November, sit ek op die pawiljoen by ʼn hoekvlag op Wembley-stadion toe Oom Piet se kleinseun Ernst opdraf as agsteman vir Saracens teen die Springboktoerspan. Daar is tien spelers van Suid-Afrikaanse oorsprong in Saracens, 15 Springbokke op die veld en ʼn groot getal Suid-Afrikaners in die skare van 46 000.

Op daardie oomblik sou ʼn NASA satellietfoto beslis gewys het dat Wembley se gemiddelde kleur groen-en-goud sou wees.

En met briljante individuele spel druk Ernst Joubert Saracens se eerste drie reg voor my in die hoek wat daartoe lei dat Saracens die Springbokke met 24-23 klop.

Soos in die musiekspel “Jacques Brel is alive and well” weet ek met daardie drie: “Piet Malan is alive and well” en hy leef miskien ook so ʼn bietjie deur sy kleinseun.

Sestig jaar na 1949.