Wednesday, 11 September 2013

Dryf vierwiel deur die drif met sêgoed

Gepubliseer in Beeld as rubriek op Saterdag 7 September 2013
Sekere lesers weet miskien dat ʼn lunsriem ʼn smerige mens is maar hoeveel weet vandag dat ʼn lunsriem die vuil riempie vol ghries was wat ʼn pen op ʼn ossewa-as geanker het om te keer dat die wiel uitval?

Ons praat daagliks van goed wat in onbruik verval het.  Is dit nie tyd vir aanpassing nie? 

Ek wil nou nie voor op die bakkie klink en elke ou tradisie met die Jacuzziwater uitgooi nie maar ons boer 8teruit.  Ons moet nou eenvoudig die vierwiel deur die drif dryf. 

Ander mense se Kindles is duister om te lees maar te veel mense se oë peusel aan stout Internetbeelde.  Hou jou hande tuis?  Nee, hou jou hand op die muis.  Veral by jou werkrekenaar.  Jy wil nie die kubertrekpas per epos kry en jouself in ablusiestraat bevind nie.

Werk?  Deesdae slaan niemand meer die hand aan die ploeg nie.  Ons meld by die skootrekenaar aan.
Oorhaastige werk skep ʼn vinnige Big Bang.  Onthou slakkepos kom ook in die geskandeerde liasseringsbaal.

Werk hard en alles sal trommelende nokas (ja, camshaft) gaan – nie klopdisselboom nie wat die disselboom se ritmiese geklop teen die draaghout was as perde op ʼn draf ʼn kar trek.
Alle GPSe lei miskien na Rome maar dis hoflik as jy ook buite jou GPS-roete vir iemand anders gaan.  Bly op die regte koördinate – goed en eerlik.  Moet niemand op sy T-hemp takseer nie.  Google jouself intern op jou taalgebruik.  Moenie soos ʼn skerpsketskomediant vloek nie.  Matrose is so skaars soos rekenaarmuistande.

Gaan huistoe na werk met ʼn backtrack in die hart want oos wes, slimfoonbes.  Vergeet van Boeings wat oor is want vroegaand sal die Guptas lankal nie net oor wees nie maar al geland het.  Op pad huis toe, skiet gerus ʼn shooter met jou mampoerbroer (voorheen drinkebroer) maar pas op vir mampoertoerbroers wat jou vroeg kroegmoeg kan maak en na Castroltong kan lei wanneer jy te veel praat.  Dis beter om nie te veel mense van jou planne te vertel nie.  Ontblote planne word maklik eposkos.  Doen verstandsgimnastiek.  Jy wil nie gedwing word om ʼn ander deuntjie te kletsrym nie.
ʼn Gesinslewe is belangrik maar onthou trou is nie bakkiekoop nie.  Moenie so alwetend soos ʼn 17-jarige Facebookvriend wees nie.  Moenie die hele tyd op dieselfde webwerf kliek nie en tot vervelens toe oor net een onderwerp praat nie.  As jy eers getroud is, belig jou gewig met ʼn laserlig want krimpklerevet is net oukei wanneer dit sjerriekoud is.

Moenie almal wil verander nie.  Jy kan ʼn boerboel skeer soos wat jy wil maar jy kan nie van hom ʼn poedel maak nie.
Gepraat van honde, welriekende tandepasta sal ʼn DBV-oggendmond regruk.

Vergeet van ʼn wa ingespan voor die osse.  Moenie die bakkie op bakstene sit om die bande te spaar nie en, vergeet van ʼn perd, moenie ʼn gegewe bakkie in die enjin beloer nie.
Onthou, die lewe is ʼn salami.  Snit vir snit is dit beter.  En, met apologie aan my vriend Dino, net met die regte kwasgebruik, streep vir streep, kan jy ʼn meesterstuk lewe.

Thursday, 15 August 2013

Slim en dapper met fles name in agterplaas

In Beeld as rubriek op Saterdag 3 Augustus 2013 gepubliseer

Volgende week se Nasionale Vrouedag pas miskien in by Sigmund Freud wat gesê het dat, na 30 jaar se studie van die vroulike siel, hy nog steeds wou weet: “Wat wil ʼn vrou hê?”
Baie mans begeer natuurlik dinge soos ʼn mooi meisie wat stadig dink in ʼn vinnige sportmotor, koue bier met ʼn warm blondine, sitplek voor ʼn sportprogram op TV en lêplek langs daardie blondine, veral as sy ʼn klein middeltjie en groot borste het. En dis hoekom baie mans vir daardie bekende sportspan speel – die Ama Domme Domme. Gewoonlik in die posisie van foolbek.

Ek weet hiervan want ek was in my jonger jare, en selfs onlangs ook, verlief tot ek keer op keer uitgevind het dat dit maar net tragiese vergissings met verbaasde meisies was. Die kern van sulke misverstande is dat dom mense nie nuut kan dink nie maar slim mense aan die hand van nuwe inligting maklik van opinie verander. Ek het persoonlike empiriese bewyse dat vrouens slimmer is as mans want in my laaste misverstand, toe ek ʼn boep as nuwe feit ontwikkel, het mý mening oor die verhouding standbeeldvas bly staan terwyl die slimmer een in ons verhouding haar opinie aangepas het. Ek is nou darem weer vriendelik met ʼn meisie en ek glo dis hierdie keer nie ʼn misverstand nie.
Glo my, vrouens is nie net die skoner geslag is nie maar ook die slimmer geslag. Winston Churchill het dit vasgevat toe ʼn verslaggewer van die Evening Standard hom in 1960 gevra het of hy dink dat vrouens die wêreld in die volgende millennium sou regeer en hy gegrom het: ”Hulle sal steeds, sal hulle nie?”

Die slimmer vrouegeslag is egter ook dikwels die heldhaftiger geslag. Dink aan Emily Hobhouse toe sy aan die hand van nuwe feite in die konsentrasiekampe ʼn klompie Britse Ama Domme Dommes onder druk geplaas het en waarde aan verdruktes toegevoeg het. Dink aan Irena Sendler.
Irena Sendler?

Sy was ʼn loodgieter in die Poolse weerstand wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Warskou Ghetto Joodse babas in die rioolnetwerk en soms reg voor Duitse soldate uitgesmokkel het. Sy het selfs ʼn hond opgelei om te blaf as sy by die soldate was sodat hulle nie die babas kon hoor nie. So het sy meer as 2500 kindertjies uitgesmokkel en voorsien van vals identiteitsdokumente voor sy gevang en ernstig gemartel is. Beide haar bene is gebreek en sy is ter dood veroordeel. Op pad na haar teregstelling het die Poolse weerstandsbeweging egter Duitse soldate omgekoop en kon sy ontsnap. Sy het al die name van die kinders in ʼn glasfles in haar agterplaas gehou en dit haar lewenstaak gemaak om ouers en kinders te verenig.
Irena Sendler het Sigmund Freud se vraag beantwoord. Sy wou kindertjies red. So het sy hulle van gasdood gespaar.

In 2007 is sy vir die Nobel Vredesprys genomineer.
Ongelukkig het ʼn man, Al Gore, dit met ʼn aanvegbare skyfievertoning oor ander gas kweekhuisgas gewen.

ʼn Ware Ama Domme Domme ongemaklike waarheid.

Saturday, 6 July 2013

Mediese boete vir ons wat na SA terugkeer - Stuur die toordokter

Gepubliseer in Beeld, Johannesburg, as rubriek op 6 Julie 2013

Luiheid is wanneer jy rus voor jy moeg raak. Ek lê nou in die bed en skryf. Nie om te rus voor moegheid nie. Ek herstel van ʼn operasie en nou bepeins ek die essensie van menswees as asemhalende, draagbare loodgieterwerk.
My gedagtes was egter elders toe ek daar op die operasietafel soos ʼn geplukte hoender wag om geskeer en geperforeer te word. Daarom wou ek by die narkotiseur weet waar hy gestudeer het want ek wou baie graag weer wakker word en my maermerries se lewenstaak verder voer, naamlik om meubels in die donker te vind. Ek het die verpleegster gevra of daar ʼn briek aan die bed langs die operasietafel was want ek wou nie tussen tafel en bed val nie omdat ek verkies om my kop teen probleme te stamp en nie die vloer nie.

Die belangrikste vraag was egter aan myself. Om my was daar ligte, instrumente en die groot TV-skerm vir beelde wanneer kameras en skalpels in my liggaam rondvroetel en al wat ek aan kon dink was: Is dit regtig so goed dat al hierdie toerusting hier uitgekom het teen die laagste tenderpryse?
Ja sien, die Skedelkus van die Dood was nog net ʼn effens siek kleuterstrand toe ek klein was en nou, op my meer kwaliteitsgerigte en minder prysgerigte ouderdom, probeer ek vlooimarkvlak-verbande en prysgesnyde snytoerusting vermy.

My operasie het gelukkig wonderlik afgeloop maar elders in die wêreld is daar dikwels tog wel sulke kwaliteitsprobleme van tyd tot tyd.
Dink maar net aan die skandaal wat soveel Barbie van der Boobiebergs die afgelope drie jaar getref het toe dit uitkom dat hulle goedbedeelde medies-geïnduseerde verleidelikheid ʼn dekade lank gemaak was van ʼn bankrot Franse maatskappy se bekostigbare silikoon borsinplantings wat beter in matrasse as vrouens se liggame sou pas. Dink aan die Amerikaanse firma wat stilletjies beensement in mense getoets het met rampspoedige gevolge of farmaseutiese firmas wat navorsingsfeite opgemaak het.

Retraction Watch, ʼn blog van Ivan Oransky (uitvoerende redakteur van Reuters Health) en Adam Marcus (redakteur van Anesthesiology News), teken honderde herroepings van mediese aansprake jaarliks aan, baie daarvan gebaseer op leuens.
ʼn Leuen in die sakewêreld is dikwels net ʼn gerieflike onakkuraatheid. Gelukkig is ons mediese toerusting in klinieke daarvan gespaar en was my vrees in die operasiesaal oor laagste tenderpryse ongegrond.

Ons het egter wel ʼn groot mediese probleem wat aandag verdien en dis van die regering se kant.
Die Wet op Mediese Skemas bepaal dat Suid-Afrikaners wat lank buite Suid-Afrika woon en nie in staat is om Suid-Afrikaanse mediese fondse oorsee te gebruik nie met hulle terugkeer vir die res van hulle lewens beboet (eintlik belas) word. Hulle moet vir altyd boetepremies van tussen 5% en 75% by mediese fondse betaal omdat hulle (kuggie) nie aan Suid-Afrikaanse mediese fondse behoort het nie. Wat onmoontlik was. Catch 22.

Dis ʼn onakkuraatheid wat terugkerendes sal wegstoot. Parlementsgedrewe.
En genoeg om my te dryf om, soos my vriend Carl wat saam met my nou die dag in ʼn bosveldse apteek was, te vra of ek nou die toordokter kan sien.

 

Monday, 1 July 2013

O bring my terug met my ou GPS

Rubriek in Beeld 8 Junie 2013
Historici stem saam dat die Dorslandtrekkers van die laat 1800’s en vroeë 1900’s holderstebolder in Angola beland het weens twee empiries bewese redes: Hulle het ʼn tekort aan goeie GPS-toestelle gehad en, soos alle vrouens weet, geen verdwaalde man vra ooit enige persoon vir rigtingaanwysings nie. Al is die strate in elke dorpie van Suid-Afrika so breed uitgelê dat ʼn verdwaalde man met ʼn breërandhoed sy ossewa in die straat kon omkeer om terug te ry.
Ek dink dit was veral as gevolg van hulle GPS-probleem dat die Dorslanders graag die liedjie gesing het: “O bring my terug met my ou GPS na daar waar my Sarie woon.”
Met hierdie skrywe trek ek nou ook noordwaarts uit die Kaap om een van Suid-Afrika se gewildste toeristebestemmings te kom besoek – Romantiese Gauteng met sy dramatiese Kapingsroete vir Voertuigentoesiaste en, vir die musiekliefhebber, sy nagtelike harmonieë. Ek sien veral uit na Ludwig van Steelhoven se Maanligsonata vir Blaf- en Sirene-instrumente.
Om te verseker dat ek Angola vermy en niemand vir rigtingaanwysings hoef te vra nie bestuur ek dus, soos so baie moderne trekmense, met ʼn GPS-toestel (Globale Posisioneringstelsel). Waar die ou Dorslandtrekkers onder sterrekonstellasies hulle osse na Angola laat verdwaal het, reis ek en my GPS-ontvanger nou onder ʼn konstellasie van 24 satelliete wat 19 000 kilometer in die lug bo ons rondkarring en waarvan vier of meer my op elke oomblik presies laat weet waar ek nou weer gevouteer (ferskoning, gefouteer) het. Dink net, met vier satelliete benodig jy nou byna 80 000 kilometer se kommunikasielyne om jou te laat weet dat jy 100 meter vorentoe moet regs draai by daardie kruising wat jy duidelik kan sien.
Die GPS-dame wat gedurig in my kar met my en my medereisiger, Noeline, raas dat ek moet omdraai, is so ʼn bietjie soos die Internet en die rekenaar — sy is militêr gebore. Die Amerikaanse weermag se Arpanet van die 1970’s, die wêreld se eerste pakketskakel-netwerk, was die model-T van die Internet. Die Tweede Wêreldoorlog se briljante Alan Turing en die geheime Britse Colossusrekenaar het vandag se rekenaars geskep. Danksy streng militêre uitvindings kan siviele swaaistoelsoldate dus vandag chaoties inkliek op triljoene ongedissiplineerde stout foto’s.
Maar terug na die GPS-stem in die motor.
In die Koue Oorlog het Amerika se Verdedigingsdepartement teen ʼn koste van so $12 miljard ʼn klomp mensgemaakte satellietsterre in die ruimte geplaas sodat GI Joe en Davy Navy ʼn ogie kon hou oor Boris Kalashnikov en sy mense. Toe die Sowjetunie in 1983 ʼn Koreaanse passasiersvliegtuig afskiet het die VSA onder president Reagan besluit om die GPS-tegnologie kommersieel beskikbaar te stel om vliegtuie te help om nie in militer-sensitiewe buitelandse terrein af te dwaal nie.
Danksy die VSA se sterrewapens kan ek en Noeline dus ons pad makliker vind maar ons moet natuurlik ons eie oordeel ook gebruik en nie digitale domkoppe wees nie. Gelukkig is ons nie meer kinders nie en het ons op ons ouderdom darem ook die voordeel van ons eie posisioneringstelsel want een van ons weet wie ons is en die ander weet waarheen ons eintlik op pad is.

 




Monday, 27 May 2013

Hoe ons mal oor malls geword het (In Beeld gepubliseer are “Die koning se spelery lei na koopkatedrale)

In Beeld as rubriek op Saterdag 25 Mei 2013.

My oorlede vriend, TV-kommentator Retief Uys, het op ʼn slag vertel van ʼn radio nuusleser in die tagtigerjare wat ʼn berig gelees het oor drie ontsnapte gevangenes wat “op vrye voet” was, Soos blits het die ou SAUK-taalpolisie ʼn nota aan hom gestuur dat die gevangenes “op vrye voete” in die meervoud moes wees. Met die volgende nuustyd voeg dieselfde leser toe ʼn nuusberig by dat die Johannesburgse Dameskoor die vorige aand “uit volle borste” gesing het.
Dit herinner my aan ʼn stuk wat ek met president Zuma se staatsbesoek aan Engeland vir Beeld se susterkoerant Rapport geskryf het. Ek het daarin gemeld dat Suid-Afrikaanse vlae die lengte van die Mall na Buckingham-paleis gehang het (die Mall synde die kilometerlange seremoniële rooi teerpad na die paleis). Teen druktyd het ʼn oorgretige redaksielid by Rapport my vlae langs die Mall verander na “Suid-Afrikaanse vlae by die winkelsentrum oorkant Buckingham-paleis”.

Oeps.
In ʼn noodgeval kan koningin Elizabeth II ongelukkig nie, curlers in die hare en handsakkie oor die arm, by ʼn Royal Buckingham Mall oorkant haar slaapkamer gou hondekorrels vir die Corgis gaan koop nie.

Maar wag, die vlag hoef nie halfmas te hang vir ʼn gebrek aan algemene kennis nie. Die redaksielid was toevallig na aan die waarheid want vandag se Rosebank, Eastgate en Menlyn Park Shopping Malls het wel ʼn historiese verbintenis met Londen se rooi geteerde Mall.
In die 16de en 17de eeue was Londenaars versot op pall-mall wat afgelei was van die Italiaanse woord “pallamaglio”. Dit klink soos setpille vir maagprobleme maar het eintlik bal-en-klophamer beteken.
Pall-mall was ʼn grasperk-croquet wat mense langs ʼn pad gespeel het wat gou bekend gestaan het as Pall Mall. As gevolg van die spel het Pall Mall, wat vandag nog bestaan, egter destyds so ʼn verkeersverknorsing geword dat koning Charles II ʼn nuwe laan daarnaby uitgelê het sodat hy en sy pelle rustig kon pallamaglio. Dit was die Mall en kort voor lank het daardie skaduryke promenade skares geskep wat talle verkoopstalletjies gelok het. In koningin Victoria se tyd het die Mall wel verander in ʼn deftige oprit na Buckingham-paleis maar die oorspronklike Mall as ʼn lowerbedekte inkoopgebied het vanaf 1922 (met die eerste inkopiemall naby Kansas City in die VSA) gelei na die benaming van mall vir enige onderdakwinkelsentrum.

So het Charles II se Mall gelei na vandag se lugversorgde pelgrimsoorde in Suid-Afrika waar moeë randreisigers, veral in diep rand-en-sent-religieuse tye soos Kersfees en Paastyd, hulle sorgbehoewende siele kan verkwik met silwerkollektebydraes. Hierdie plekke is nie net mooi kommersiële katedrale nie. Dis waar ʼn man kan wegbreek om teen ʼn muur, soos iemand met sy rug na ʼn vuurpeleton, te staan en water afslaan terwyl sy anti-kraanwater vrou elders water in bottels koop wat al die pad van Switserland ingevoer is en kinders multitake in ʼn fliek kan verrig met voedsame springmielies, roomys en bruisdrankies. Danksy pallamaglio kan ʼn mens nou uitgaan om flitsbatterye te koop en tuiskom met ʼn 60-duim platskerm TV en ʼn goudvergulde kurktrekker.
Ja, sedert Charles II is daar net drie dinge wat absoluut seker is in die lewe: die dood, belasting en meer malls.


   

Die klavier

In Beeld as rubriek op 11 Mei 2013


Leuens is dikwels gebuigde waarhede. Waarhede is nooit gebuigde leuens nie.
President Richard Nixon van die VSA het byvoorbeeld die waarheid lelik gebuig tydens die Watergateskandaal maar dit mooi reggetrek met sy opmerking dat, as jy pragtige musiek wil speel, moet jy die swart en wit note saamspeel. Die heelal bestaan nie net uit swart gravitasiekolke en ook nie net uit wit lig nie. Dis soos Nixon se musiek. Ongebuig waar en saam. Oukei, tensy jy ʼn Einstein-haarklower is.
So staan ek nou die dag as ʼn klein hartklopspikkel in die heelal in ʼn aftree-oord in Hermanus en ek kyk na die swart en wit klawers op Erna se klavier. Erna is nou in haar tagtigs en haar klavier, ʼn Otto Müller met twee ingeboude kandelare en pragtige houtsneewerk wat in die 1800’s uit Berlyn via Durban ingevoer is, het ʼn interessante musikale rol in die gravitasiekolke en ontploffingslig van die Anglo-Boere-oorlog gespeel.
“My Ouma Gerhardina was sestien jaar oud toe die Engelse in die Anglo-Boere-oorlog op ons familieplaas tussen Harrismith en Memel aankom. Jy weet seker van die Engelse se brandbeleid om plaashuise en besittings te vernietig toe die mans op kommando was en die vrouens tuisgebly het.”
Ja.
“Wel, die Engelse het Gerhardina, haar ma en ander kinders uit die huis gejaag om die huis aan die brand te steek. Die sestienjarige Gerhardina smeek toe dat die Engelse offisier haar klavier moes spaar. Hy sê toe dat, as sy vir hom iets sou speel, hy dit sou oorweeg.”
Ek dink aan my dogter Karen en haar liefde vir musiek.
“Die soldate dra toe hierdie klavier na buite en weet jy wat sy vir hom speel? Home Sweet Home. En skielik was daar ʼn vredesoomblik in die oorlog tussen Ouma Gerhardina en die offisier,” sê Erna, “want hy het in trane uitgebars. Die klavier is gespaar.”
 
Na die tyd lees ek die liriek op:
Mid pleasures and palaces though I may roam,
be it ever so humble, there's no place like home.
 
Wit en swart note het twee teenoorgestelde oorlogshuise in ʼn lied saamverweef.
 
“Dit was seker maar hierdie klavier se Home Sweet Home wat die offisier oorreed het dat Gerhardina-hulle by hulle afgebrande huis kon aanbly. Die murasie was reg by die Drakensberge en die vrouens het die res van die oorlog in ʼn grot gaan bly.”
 
“En die klavier?”
 
“Die plaaswerkers, wat natuurlik almal swart was, het die klavier na hulle kraal geneem en dit opgepas.”
 
Ek wonder, het die vingertjies van kinders die vreugde van musiek op hierdie swart en wit klawers in daardie kraal ontdek?

“Vir die res van die oorlog het die plaaswerkers vir Ouma Gerhardina en haar familie kos na die grot geneem. En na die oorlog het Gerhardina haar klavier van die werkers teruggekry.”
Wat ʼn les.

Swart en wit note op ʼn klavier in Hermanus het nie net meer as ʼn honderd jaar gelede vrede tussen Boer en Brit geskep nie maar ʼn vertrouensband tussen wit en swart.
Musiek is vandag steeds die ware, ontasbare vredesband tussen mense van alle rasse.

Miskien moet dit meer gebruik word.


  

 

 

Monday, 22 April 2013

As ʼn tornado ʼn rots opsuig

Hierdie het as 'n rubriek in Beeld op 30 Maart 2013 verskyn.

Jy hoef nie ʼn opgeleide demografiese spoorsnyer te wees nie om te weet dat die spore van die Suid-Afrikaanse diaspora die hele wêreld vol lê. So het ek nou elf jaar lank my eie Suid-Afrikaanse spore in die omgewing getrap waar Elizabeth II en Philip in die kamers bo hulle winkel oorsee woon. In die proses het ek agt jaar lank my Briewe uit Brittanje aangestuur.
Dinge het nou egter verander wat miskien gedeeltelik verklaar kan word aan die hand van die Mosselbaaise Weerstasie — ʼn rots so groot soos ʼn rugbybal wat aan ʼn tou op die Mosselbaai-gholfbaan hang met ʼn bord wat die volgende sê: As die rots nat is reën dit; As die rots swaai is dit winderig; As die rots warm is, is dit sonnig; As die rots koud is, is dit bewolk; As die rots wit is sneeu dit; As die rots blou is, is dit koud; As die rots weg is, is dit ʼn tornado.


Dis ʼn meteorologiese feit dat ons almal van tyd tot tyd persoonlike storms in ons lewens ondervind. So het ʼn persoonlike tornado van die afgelope maande my in sy tregter opgeslurp, weggeneem uit Brittanje en teruggeplaas in sonnige, kalm Suid-Afrika wat beteken dat hierdie my laaste Brief uit Brittanje is.

So wat is die oorkoepelende les wat jy leer as jy jou land verlaat en na elf jaar weer terugkom?
Laat my toe om met ʼn storie te begin wat my ouma my vertel het van toe sy so ses of sewe jaar oud was.

Sy het grootgeword op ʼn plaas in die distrik van Philippolis waar daar ʼn groot probleem in die huis was want ʼn spook met ʼn skril stem soos witkryt op ʼn swartbord het elke nag die donker gang afgehardloop en giggelend deur toe kamerdeure en selfs mure ingesweef. Dit was nogal steurend want die spook het snags ʼn sleepketting oor haar bene getrek waar sy in die bed gelê het en dan laggend verder beweeg om die ander familie te gaan pla.

Haar pa en ma het lank gepraat en toe besluit. Hulle moes wegkom van die spook. Hulle moes trek.
Hulle het nog nie ʼn “horseless carriage”, oftewel motorvoertuig, besit nie en dus hulle wa met al hulle besittings gepak.

Met die huis dolleeg en alles ingeprop in die ingespande wa kom die plaaslike smous toe daar aan en stop in ʼn stofwolk van perdepote en wiele.

“Hei, wat gaan hier aan?” vra die smous.
Dis toe dat die seilflap aan die agterkant van die wa stadig oopgaan, die spook sy kop uitsteek en uitroep: “Ons trek!”

So daar is die diasporiese les vir almal wat ʼn land verlaat.
Jy trek nie alleen nie. Jou spoke gaan altyd saam. Jy mag Suid-Afrika verlaat maar die geraamtes in jou kas trek saam na Perth, Parys of Phnom Penh.

Wanneer jy dan weer terugkeer bring jy nuwe spoke van die ander kant saam na Pretoria, die Paarl of Phalaborwa.
Drome is klein persoonlike rolprente. In ʼn sekere sin is jou landsherinneringe miskien niks anders as persoonlike rolprente oor spoke nie.